ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n VF Plus-ondersteuner het dié foto geneem waar twee mans glo besig was om DA-plakkate  bo-oor die plakkate van die VF+ vas te maak. Foto verskaf.

Stryd om die “paalspasies” begin

Date: 08 July 2016 By: Isabel Venter

Wat is ‘n munisipale verkiesing dan nou sonder ‘n “stryd om die pale”? Vanjaar se verkiesings, wat vir 3 Augustus geskeduleer is, blyk nie ‘n uitsondering te wees nie en die eerste harde woorde oor wie se plakkaat waar mag wees, het reeds geval.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) se plaaslike kandidaat in dié verkiesing, mnr. Colin Gamble, is warm onder die kraag nadat van sy plakkate vervang is met dié van die opposisie, mnr. Brian du Plooy van die Demokratiese Alliansie (DA). Gamble sal hierdie jaar stemme werf vir die VF+, en dit is die eerste plaaslike verkiesing waaraan hy deelneem. Een van sy ondersteuners het verlede week aan hom foto’s gestuur wat wys hoe twee mans besig is om DA-plakkate met Du Plooy se gesig op bo-oor die plakkate van die VF+ vas te maak.

“Dit was vir my nie reg gewees van hulle nie [DA],” het Gamble aan die koerant gesê. “Ons het ons plakkate mooi netjies opgesit, en niemand te na gekom nie. Ons het selfs plakkate van hulle [DA] en die ander mense, wat besig was om af te val, weer vasgemaak,” het Gamble gesê. Hy het aangedring op ‘n verskoning van Du Plooy, en ook ‘n kriminele klag gelê by die Makhado Polisie vir verdere ondersoek.

Du Plooy het by navraag gesê dat die situasie vinnig uitgesorteer is toe hy in kennis gestel is van die situasie deur Gamble se ma, me. Annette du Preez. Hy en die provinsiale leier van die DA, mnr. Jacques Smalle, was binne 10 minute op die toneel en het die plakkate reg opgesit.

Die DA se helpers, het Du Plooy verduidelik, was nie moedswillig gewees in hulle optrede nie. “Die DA plakkate is van baie goeie gehalte, en is op masonite vasgegom. Die plakkate het bo-oor die VF+ se plakkate gesak, en ons het dit onmiddellik reggestel.

Du Plooy het verder gesê dat hy ook met Marcel Marits van die VF+ se Mokgalakwena-kantore geskakel het en die saak uitgeklaar het. “Volgens ons is die saak afgehandel en is iets van die verlede,” het Du Plooy gesê.

Die twee partye se onderonsie het opnuut weer die wetgewing wat verkiesingsplakkate en ander tydelike advertensies reguleer onder die kollig geplaas. Buiten dat dit teen die gedragskode van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is vir een politieke party om ‘n ander se plakkate te beskadig, is daar ook munisipale bywette wat van toepassing is.

Volgens die Makhado Munisipaliteit se ordonnansie op advertensies en ander buitelugborde is dit onwettig om ‘n verkiesingsplakkaat of enige ander advertensie op te rig sonder die nodige toestemming van die munisipaliteit. Dit is ook teen die wet om plakkate aan te bring aan pale met verkeerstekens of waar dit die sig van motoriste en voetgangers kan belemmer.

Verder het die munisipaliteit ‘n lang lys van reëls waaraan plakkate moet voldoen. Dit moet byvoorbeeld nie sekere voorgeskrewe mates oorskry nie, die materiaal moet nie skadelik wees vir die omgewing nie, dit mag nie die munisipaliteit se infrastruktuur verniel nie en waar ‘n plakkaat op ‘n lamppaal vertoon word, mag dit nie meer as 15 inligtingspunte bevat nie.

Inwoners wat vermoed dat die plaaslike politieke partye nie voldoen aan hierdie reëls nie kan dit aanmeld by die munisipaliteit deur hulle te skakel gedurende kantoorure by tel. 015 519 3000. Die plaaslike kantoor van die OVK kan ook gekontak word om ondersoek in te stel en hulle ondersoekbeampte is mnr. Mukwevho, by tel. 082 448 4503.

 
 
 

Viewed: 908

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Plakkate vir verkiesings of advertensies mag volgens munisipale ordonnansies nie op verkeerstekens aangebring word nie.

Dié plakkate is amper dadelik weer reggemaak deur die DA, en hulle het die foto geneem om dit te bewys. Foto verskaf.

Die Vryheidsfront Plus is die josie in vir die Demokratiese Alliansie (DA) nadat plakkate bo-oor dié van die VF+ vasgemaak is. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT