ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Hansie en tannie Corrie Uys, afgeneem tydens hulle besoek aan die Zoutpansberger Maandag. Die kneusplekke op oom Hansie se arms is nog duidelik sigbaar en tannie Corrie sê sy behandel dit self.

Haar klappe brand

Date: 04 July 2016 By: Isabel Venter

‘n Mens moet maar rekening hou met tannie Corrie Uys (67) van Louis Trichardt, want haar klappe brand…

Vra maar net vir die man wat dit durf waag het om sy hande te lig vir tannie Corrie se man, oom Hansie Uys (86). “Ek het nie eens geweet ek het sulke karate moves in my nie!” het tannie Corrie Maandag gesê. Die egpaar het by die Zoutpansberger kom inloer om die verhaal te kom vertel.

Tannie Corrie het Saterdagoggend met die vuiste moes inklim om oom Hansie te verdedig toe ‘n onbekende man hom begin rondpluk het. Dit het alles begin toe oom Hansie, wat self ‘n ou hand in die nuusbedryf is, ‘n storiegeleentheid gesien het.

In die vroeë oggendure was daar ‘n motorongeluk ‘n paar meters van hulle woonstel in Douthwaitstraat, agter die staatsgevangenis. ‘n Man het met ‘n bussie vanuit Douthwaitstraat regdeur die agterste heiningdraad van die gevangenis geploeg en teen die klipterras van die groentetuin tot stilstand gekom. “Tussen die spinasie,” het oom Hansie opgemerk.

Oom Hansie en tannie Corrie het eers later agtergekom van die ongeluk toe die sekuriteitswag, met wie hulle gereeld ‘n praatjie aankoop oor en weer, vir hulle kom vra of hulle gesien het wat gebeur het. Die nuusman wat oom Hansie is, het hy toe sy kamera gevat om ‘n paar foto’s te gaan neem van hoe die insleepdienste die bussie uit die gevangenis se groentetuin sleep. Tannie Corrie het saamgestap om te kyk hoe lyk die bussie.

Helaas, hiervoor was die bussie se bestuurder nie te vinde gewees nie en kort daarna het alle hel losgebars. Die man het op oom Hansie afgestorm, terwyl hy op hom geskreeu dat hy nie mag foto’s  neem van sy bussie of van hom nie. Die man, het oom Hansie gesê, was baie aggressief en het die kamera by hom probeer afvat. “Maar Hansie het geklou, jong,” voeg tannie Corrie by.

Albei oom Hansie se arms is lelik gekrap en gekneus in die struweling. Dit was toe dat tannie Corrie tussen beide getree het. “Toe, op die ingewing van daai oomblik, toe maak ek só…” vertel tannie Corrie, terwyl sy in die lug beduie hoe sy vuis gemaak het, “…en toe streep ek hom.”

Sy het die man nie net een nie, maar sommer drie opstoppers gegee. “Ek het hom eers hier onder die oog geslaan en met die tweede hou slaan ek hom op sy wang. Toe ek hom die derde hou slaan, toe probeer ‘n tjommie wat saam met hom was, my aftrek. Ek weet nie waar ek hom getref nie, maar toe skop ek so agter toe en ek het gevoel ek het hom raakgeskop.”

Steeds was dit het einde niet en steeds het tannie Corrie gewonder waar haar kragte vandaan gekom het. “Ek was so kalm, asof ek dit elke dag doen. Normaalweg klop my hart so vinnig as ek moet buk en iets uit die kas haal,” het tannie Corrie gesê.

Die bestuurder het wéér vir oom Hansie gekom en die kamera probeer gryp. In ‘n desperate poging het oom Hansie probeer om die kamera deur hulle palissadeheining op die gras te gooi, sodat die bestuurder dit nie kon bykom nie.

Die bestuurder het egter oom Hansie se arm genadeloos rondgepluk. “Ek was bang dat hy my arm so sou draai dat dit breek ... ek is oud, jong, my arms kan maklik breek ... en die ou is gróót, jong,” het oom Hansie gesê. “Kyk hoe lyk sy arms ... hier nerwe af waar dit deur die palissade was, en daar op die ander arm blou soos wat die ou hom vasgedruk het om die kamera te gryp,” voeg tannie Corrie by.

Die man het toe daarin geslaag om oom Hansie se hand uit te pluk en die kamera stukkend te gooi. Daarna het hy en sy tjommie in ‘n bakkie gespring en weggejaag, terwyl hulle die insleepdienste se mense netso gelos het om self klaar te maak.

Alhoewel oom Hansie se kamera daarmee heen is, is die kamera se geheuekaart nie beskadig nie en het die foto’s behoue gebly.

Intussen dokter tannie Corrie self oom Hansie se arms en hulle het die stasiebevelvoerder van die Makhado Polisiestasie in kennis gestel van die voorval. Hulle het verkies om nie 'n klag te lê nie, uit vrees vir verdere viktimisasie.

Plaaslike polisiewoordvoerder adjudant-offisier Kedibone Mbatha het by navraag bevestig dat daar 'n ongeluksverslag ingedien is en dat daar nie 'n saak van nalatige of roekelose bestuur geopen is vir verdere ondersoek nie.

 

 
 
 

Viewed: 1315

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Een van die foto's wat oom Hansie Uys kon neem van sy aanrander, voor dié sy kamera stukkend geslaan het. Dié man het ook glo die bussie bestuur wat deur die omheining van die tronk gebars het.

Die bussie wat deur die gevangenis se heining geploeg het Saterdagoggend, naby oom Hansie en tannie Corrie Uys se woonstel in Douthwaitstraat.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT