ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Jan Louw (55). Foto verskaf.

Stoute Jan groet

Date: 27 June 2016 By: Andries van Zyl

As daar nou een woord sou wees om die Soutpansberg se Jan Louw te beskryf, sou dit Ubuntu gewees het. Hy was ‘n man wat hierdie Afrika-filosofie van sorgsaamheid, mededeelsaamheid en naasteliefde in woord en daad uitgelewe het.

Die nuus van Jan se dood, skaars drie dae na sy 55ste verjaardag op 17 Junie, het die Soutpansberg-gemeenskap geruk. Hy het Maandagoggend, met sy vriendin Dina, kinders en familie langs hom, sy stryd teen kanker verloor in die Kloofhospitaal in Pretoria. Dit volg skaars drie-en-‘n-half maande nadat hy met ‘n baie rare en uiters aggressiewe kanker gediagnoseer is. Die kanker was so aggressief dat daar geen sprake was van opereer nie, en chemoterapie sou hom ook nie meer kon help nie.

“Dit was te vinnig,” het Vaughan van Niekerk Dinsdag gesê. Hy en Jan is reeds sedert die middel 1980’s boesemvriende. “As ons 24 uur per dag GoPro’s kon dra, sou hulle 10 films van ons kon maak,” sê Vaughan met ‘n groot, stoute glimlag.

Jan is hier in die Soutpansberg gebore en getoë en was by Laerskool Soutpansberg op skool. “Daarna was hy by drie hoërskole in die streek, maar is by aldrie uitgeskop. Hy was baie stout gewees, maar het sy matriek geskryf,” glimlag Vaughan.  

In lewe was Jan voorwaar een van daardie groter-as-lewensgroot mense wat diep spore, nie net plaaslik nie, maar ook landswyd getrap het. Op sportgebied het hy vir jare vir Louis Trichardt se eerste rugbyspan uitgedraf. Meer onlangs is hy ook deur die Louis Trichardt Rugbyklub aangewys as Ondersteuner van die Jaar. Op boerdery-gebied was hy ‘n pionier gewees om die Boran-beesras uit Kenia na Suid-Afrika te bring. Baie sal hom ook onthou vir die hoeveelheid pryse wat hy met sy hoenders en eende op skoue plaaslike en nasionaal gewen het. Hy was ‘n man met ‘n ongelooflike veggees en aktiewe lid van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie. ‘n Sprekende voorbeeld van sy veggees was in Junie 2011 toe hy 15 keer met ‘n mes gesteek is tydens ‘n plaasaanval op sy plaas Nooitgedacht. Nie lank ná die aanval nie was hy, te midde van die seer, terug op sy plaas, besig om te boer.

Dit waarvoor Jan egter die bekendste was, was vir die ongelooflike terggees wat hy was. Hy het ‘n grap gehad vir elke geleentheid. “Jy weet, ons het een keer ‘n groep amputees van Afganistan vir sewe dae na Kariba geneem. Jan was die vonk wat daardie ouens, in hul getraumatiseerde toestand, kon laat lag ... daar was ouens wat bene verloor het, beide arms – van hulle was die enigstes wat oorleef het uit ‘n groep van 10 … dit was Jan,” onthou Vaughan.

Alhoewel Jan bekend was as stoute terggees, was daar ‘n baie dieper kant van hom gewees. “Sy passie vir sy familie was ongeëwenaard. Hy was ‘n harde man, maar ongelooflik regverdig. Jan was altyd die een wat ander ouens eerste laat kry het, hetsy by ‘n braai of as salarisse betaal moes word. Hy het laaste gevat,” sê Vaughan. Hy voeg by dat hy nooit, ooit vir Jan ‘n leuen hoor vertel het nie. “Hy was altyd reguit en eerlik, soms tot die vlak waar dit seermaak, maar jy het altyd geweet presies waar jy met Jan Louw staan,” sê Vaughan.

Vaughan sê dat baie mense ook net vir Jan geken het as boer op sy plaas, maar dat hulle nie besef het hoeveel ander fasette Jan gehad het nie. “Soos sy aalwyne. Hy het nie net geweet waar die aalwyn vandaan kom nie, maar ook wat elkeen se biologiese naam is. Hy was ‘n gebore versamelaar, van ou karre, Engelse literatuur en items uit die Boer-geskiedenis. Jy moet die boeke sien wat hierdie man gehad het ... Hy was welbelese met ‘n kop vir besigheid. Hy was nie net ‘n spoeg-en-plak boer nie. Jan het nie net sy beeste geken nie, hy was lief vir hulle. Wanneer medikasie toegedien moes word, het hy dit self gedoen. Wanneer kunsmatige inseminasie gedoen moes word, het hy dit self gedoen. Hy het nie geskroom om ander boere te help nie. As daar ‘n vuur op die buurplaas was, was Jan eerste daar. So ook het hy baie opkomende boere gehelp. Hy was ‘n voorbeeld van ‘n Ubuntu boer,” sê Vaughan. (Wat betref Jan se aalwynversameling, sê Vaughan, praat hy onder korreksie, maar van die sowat 120 spesies in Suid-Afrika het Jan net twee of drie spesies nie op sy plaas gehad nie.)

Buiten vir sy passie vir die natuur en natuurbewaring, het Jan ook ‘n passie vir mense gehad. “So groot as wat sy hart was, so groot was sy beursie. Hy het almal gehelp, hetsy die Tafelronde, Rotariërs, Ladies Circle, skole, kerke – almal, want Jan maak ‘n plan!” sê Vaughan, ‘n sentiment wat deur talle beaam sal word.

Vaughan neem met hartseer afskeid van sy vriend. “Die lojaliteit wat ek van hom ervaar het, was dieselfde wat jy sou verwag van ‘n broer. Die entoesiasme wat hy gehad het in wat ek mee besig was, is iets wat ek altyd sal vashou,” sê Vaughan.

 

 
 
 

Viewed: 5953

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT