ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Louis Trichardt Boerevereniging het die afgelope week hulde gebrink aan Jan Louw (foto) wat Maandag oorlede is. Foto verskaf.

“Sy heengaan laat ‘n leemte wat nooit gevul sal word nie”

Date: 26 June 2016 By: Andries van Zyl

Mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Louis Trichardt boerevereniging, het hierdie week hulde gebring aan Jan Louw wat Maandag oorlede is.

Ahrens het gesê dat die gemeenskap vir jare die heengaan van Jan Louw sal voel. “Jan Louw was die mees lewenslustige persoon en ‘n boer in murg en been,” het Ahrens gesê. Hy het sy medelye uitgespreek teenoor al Jan se geliefdes, asook die hele gemeenskap. “Ons wens sy familie sterkte en krag toe in die moeilike tyd. So ‘n besonderse mens sal gemis word. Hy het onuitwisbare spore in die harte van almal wat hom geken en liefgehad het, gelaat. Sy heengaan laat ‘n leemte wat nooit gevul sal word nie.”

Ahrens het Jan beskryf as iemand wat werklik ‘n verskil in die lewe gemaak het. “Hoeveel van ons maak ‘n verskil aan die wêreld waarin ons woon? Jan Louw het! Hierdie stralende mens met sy ondeunde geaardheid was op soveel terreine van ons samelewing nie ‘n toeskouer nie, maar hy het voluit gelewe. ‘n Gemeenskapsmens, ‘n omgee-mens, ‘n doener-mens,” het Ahrens gesê.

Ahrens uit uitgebrei oor die besonderse mens wat Jan was. “Hy het vir homself gedink en het en nie geskroom om sy opinie te gee en dan ook daarby te hou nie.  Hy was ‘n vindingryke mens en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Almal wat hom geken het, sal hom onthou vir sy liefde vir sy beeste, sy braaiers wat hy gebou het, sy reguit manier en sy ongelooflike sin vir humor. Jan sou alles wat hy het, gee om die mense na aan hom te help. Hy het voluit geleef, hard gewerk, maar ook lekker gekuier. Daar was altyd tyd vir ‘n grappie, stuitigheid of ‘n streep trek. Hy het ‘n grusame aanval met 15 meswonde oorleef. Hy was Jannetjie Louw,” het Ahrens gesê.

Selfs toe Jan met kanker gediagnoseer is, sê Ahrens, onthou hy Jan se eie woorde: Nou moet ek sterk wees! “Hy het positief gebly en hard geveg, maar almal kon sien hoe sy liggie al flouer brand,” het Ahrens gesê.

Ahrens het gesê dat dit vir hom ‘n voorreg was om Jan te kon ken. “Dankie dat ons saam met jou kon werk, kon speel en kon lag,” het Ahrens gesê.

As verdere huldeblyk aan Jan, het Ahrens en die Louis Trichardt Boerevereniging die volgende gedig, Want jy is ‘n boer, aan Jan opgedra:

Mag dit reën waar jou beeste wei

Mag dit goed gaan met jou

Mag jou skape begin jakkals jag

Mag jou koring silo’s bou

 

Mag jou listerpomp met water werk

Mag jou cruiser lig op brandstof wees

Mag jou heinings altyd regop staan

Mag jou vee vanself genees

 

Want jy is boer

Hierdie is my wens vir jou

Jy sal staan as alles om jou vou

Jy sal plant al is die reën te laat

En glo in die hand van bo

Wat alles weer nat sal maak

Want jy is boer, jy is boer

 

Jy sal opstaan in die more voor die son opkom

En werk tot hy weer loop sak

Daarna is jy ‘n familie man

Onder ‘n platteland sterredak

 

Mag jou vrugtebome kromrug dra

Mag fonteine om jou lande lê

En mag ons wat honger en dors is

Netso bietjie vir jou dankie sê

 
 
 

Viewed: 2025

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT