ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Ali Malan. Foto verskaf.

'Ons sal sy ondeunde glimlag nooit vergeet'

Date: 18 June 2016 By: Isabel Venter

Die bekende Ali Malan van Louis Trichardt is verlede Donderdag (9de) in die Tzaneen MediClinic oorlede na ‘n lang stryd met kanker. Hy was 66 jaar oud.

Baie sal vir Ali onthou vir die lekker grappies wat hy kon maak. Hy was veral ‘n geliefde gesig by die Gereformeerde Kerk hier in Louis Trichardt.

Ali se kanker is ontdek tydens ‘n heupvervangingsoperasie. Weens sy gesondheid, wat dramaties agteruit gegaan het, het hy bedank by Novon – sy laaste werk – en op vroeë pension gegaan. Ongelukkig het die kanker in April vanjaar verder versprei en moes hy in die hospitaal opgeneem word vir behandeling. Hy was vir die laaste ses-en-‘n-half weke voor sy afsterwe in ‘n koma gewees.

In lewe sal Ali se eggenote Nanette en sy drie kinders hom onthou vir die legendariese man, pa, oupa en sagte hardekop wat hy was. “Hy was iemand wat ons altyd geïnspireer het om meer te wees, altyd tyd gehad het vir ‘n grappie, maar ook kon ernstig wees. Iemand wat ons geleer het van liefde, respek en weer probeer,” het die familie gesê. “Ons sal sy stoute oë en ondeunde glimlag nooit vergeet nie. Al is dit hoe swaar, berus ons ons in die wete dat hy nou pynvry by sy Hemelse Vader is.”

Ali is op 9 Januarie 1950 in Kroonstad gebore as Albertus Erasmus Malan. Hy het daar grootgeword en later jare gematrikuleer aan die Kroonstadse Landbouskool - ‘n feit waarop hy geweldig trots was en wat net geëwenaar is deur sy liefde vir sy gunsteling rugbyspan, die Cheetahs. Ali het, buiten vir sy liefde vir rugby (hy het in sy jonger dae ook vir die Vrystaat gespeel), ook graag gejag en was veral lief vir visvang.

Ná skool het Ali na Louis Trichardt verhuis, waar hy vir ‘n baie kort rukkie geboer het op die plaas Goedgedacht naby Mara, voordat hy en Nanette in 1972 getroud is.

Wyle Ali word oorleef deur Nanette, sy seun Hannes (met eggenote Jolene en hul kinders Adriaan en Micke), dogter Anel (met eggenoot Marnus en hulle kinders Suné, André en Shene) en dogter Anneke (met eggenoot Stephan en hulle kinders Retief en Carli).

Ali is Maandag vanuit die Gereformeerde Kerk in Louis Trichardt begrawe. Nanette en die gesin het hulle opregte dank uitgespreek teenoor die hele gemeenskap, hulle vriende en familie vir hul ondersteuning en bemoediging in hulle tyd van rou. “Dankie vir elke oproep, SMS, besoek en drukkie.”

 

 
 
 

Viewed: 989

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT