ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Christine Malan (85). Foto verskaf.

Beminde tannie Christine oorlede

Date: 18 June 2016 By: Andries van Zyl

Tannie Christine Malan, ‘n vrou wat oor dekades diep spore in die Louis Trichardt-gemeenskap getrap het, nie net as sakevrou nie maar ook as weldoener, is op 11 Junie in die ouderdom van 85 jaar oorlede.

Christina Wilhelmina Magdalena Malan (ook bekend as tannie Christine of Stienie), is as ‘n nooi Grobbelaar op 30 Oktober 1930 op Lichtenburg gebore. Sy het in 1971 vanaf Lichtenburg na Waterpoort verhuis en in Desember 1979 vanaf Waterpoort na Louis Trichardt. Kort na haar aankoms in die dorp het sy Christine’s Video begin – een van die bekendste videowinkels in die dorp in die vroeë 80’s. Nadat sy die videobedryf verlaat het, het sy tot in 2005 loseerders ingeneem by haar huis en mense van ‘n heenkome voorsien.

Tannie Christine sal egter meer onthou word vir haar liefde vir kinders en bejaardes. Sy het reeds sowat 30 jaar gelede betrokke geraak by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie se Gesinsorg-projek. In daardie stadium was Bets Prinsloo die maatskaplike werker. Die ander lede van haar omgeespan het bestaan uit Alida Jongbloed en Susan Coetzee.

“Haar passie was om met oumense en kinders te werk. Haar hart was oop vir mense wat sukkel,” onthou haar dogter Trieks. So het tannie Christine siektebesoek gebring en selfs nie eens geskroom om bedlêende mense  te help was nie. Haar passie om mense te help het egter geld gekos en, sê Trieks, haar ma het elke moontlike manier gebruik om geld in te samel. Sy het selfs seëls verkoop om te help om kospakkies vir behoeftiges op te maak. Sy het ook ‘n boekklub begin by wie mense boeke kon huur om te lees. Dan het sy ook pannekoek gebak en siekes se hare gewas en gedoen. Sy het ook groot moeite gedoen om behoeftiges van klere te voorsien.

“Sy het ‘n baie groot hart gehad. Sy het nooit kwaad gepraat van enige iemand nie. Haar hand was oop. Sy het nie ‘n suinige haar op haar kop gehad nie,” sê Trieks. Sy voeg by hoe bemoedigend dr. Anneke Malan se woorde aan haar was kort voor haar ma se dood. “Haar woorde was: 'Sy was ‘n groot vrou in die gemeenskap'.”

Wyle tannie Christine word Dinsdag, 21 Junie, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Sy word oorleef deur seuns Neels en Niek, dogters Soph, Anita, Christa en Trieks, 19 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.

 
 
 

Viewed: 916

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT