ADVERTISEMENT:

 

 
 

SACM

Gevangenis gaan appèl aanteken teen uitspraak

Date: 10 June 2016 By: Andries van Zyl

South African Custodial Management (SACM) het aangedui dat hulle appèl gaan aanteken teen die Noord-Gauteng Hooggeregshof se uitspraak ten gunste van ‘n gevangene by die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteit Gevangenis buite Louis Trichardt.

Regter Nomsa Khumalo het op 13 Mei ‘n R200 000 skadevergoedingseis toegestaan aan Takalani Neluheni, wat aangevoer het dat hy aangerand is deur ‘n groep bewaarders by die gevangenis. Neluheni is in 2010 in die gevangenis opgeneem en het getuig dat die aanranding in Februarie 2011 plaasgevind het.

Neluheni het onder meer getuig dat hy aangesê is om te ontklee, voordat hy anaal deur die bewaarders deursoek is. Die bewaarders, het hy getuig, het hom deur die gesig geklap, terwyl een op sy privaatdele gespring het. Ten tye hiervan sou sy hande agter sy rug geboei gewees het, en sou hy ook enkelboeie aangehad het. Neluheni het getuig dat hy in hierdie toestand teen trappe afgegooi is, waarna die bewaarders hom na ‘n sel gesleep het waar hy 42 dae in afsondering aangehou is. Hy het getuig dat hy nie ‘n gewelddadige mens is nie en dat die bewaarders gepoog het om sy menswaardigheid weg te neem. In ‘n stadium, het Neluheni getuig, het die bewaarders ook probeer om hom te vergiftig. Hy kon egter daarin slaag om die aanranding onder die gevangenis se dokter se aandag te bring, wat die omvang van sy beserings aangeteken het.

Die gevangenis het egter ontken dat die wagte Neluheni aangerand het. In hul verweer het SACM aangevoer dat Neluheni inderdaad ‘n baie gewelddadige mens is met 11 vorige veroordelings vir aanranding. Hulle het aangevoer dat Neluheni die beserings opgedoen het toe hy probeer het om sy sel aan die brand te steek, twee wagte aangerand het en toe met geweld onder beheer gebring moes word. Neluheni is van die aanranding op die twee wagte aangekla, maar later vrygespreek.

Regter Khumalo het in haar uitspraak gesê dat dit duidelik is dat Neluheni baie verbitterd is en geneig is om dinge te oordryf, maar dat sy Neluheni se weergawe van die aanranding glo. Sy het die gevangenis se getuienis verwerp.

Ná uitspraak ten gunste van Neluheni het die SACM by monde van hul prokureur, mnr. André Naudé van Coxwell, Steyn, Vise & Naudé, gesê dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer en reeds in die proses is om hofstukke hiervoor gereed te kry. Hy wou geensins kommentaar lewer oor die uitspraak self nie, behalwe om aan te dui dat die saak weens die appèl tans sub judice is. Naudé het ook aangedui dat SACM tans ook nie van voorneme is om enige aksie te neem teen enige van die bewaarders wat by die aanranding geïmpliseer is nie.

 
 
 

Viewed: 934

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT