ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Hansie Uys, een van Hoërskool Louis Trichardt se eerste matriekleerlinge, het op 25 Mei die kans gehad om ná 70 jaar terug te keer na sy almamater en die huidige skoolhoof, mnr. Louis Cilliers (links), te ontmoet. Foto verskaf.

Een van eerste matrieks bring besoek aan skool

Date: 10 June 2016 By: Isabel Venter

Nie baie inwoners besef hoe spesiaal die jaar 2016 vir Hoërskool Louis Trichardt is nie - dit is die skool se 70ste bestaansjaar.Tans is die skool in die proses om hul argiewe op datum te bring, en het toe sommer onlangs ‘n baie spesiale besoek ontvang van een van hulle oudste matriekleerlinge.  

Die welbekende oom Hansie Uys van Louis Trichardt het op 25 Mei die huidige skoolhoof, mnr. Louis Cilliers, ontmoet en saam gesels oor toeka se dae.

Oom Hansie het toentertyd Standerd 9 en 10 (vandag Graad 11 en 12) binne ses maande voltooi, in die jaar wat dié skool sy eerste “matrieks” gehad het.

Destyds, toe Hoërskool Louis Trichardt begin het op 16 Januarie 1946, was daar net voorsiening gemaak vir Standerd 6 tot 9-leerlinge (Graad 8 tot 11). Die skool het toe met 358 leerlinge gespog, waarvan 84 Standerd 6-leerlinge was. Daar was toe nog geen matriek nie, met die eerste matrieks wat eers in 1947 hul skoolloopbaan met ‘n 86% slaagsyfer voltooi het. Dit was juis hierdie groep waarvan oom Hansie deel was.

Oom Hansie vertel dat hy in 1944 by die Afrikaans Hoërskool in Pretoria sy Standard 8 klaargemaak het. “Ek was toe reeds twee jaar en vier maande uit die skool,” vertel die gryskop oom.

Gelukkig het die destydse (en eerste) skoolhoof, mnr. SM Brönn, in Oom Hansie se lewe ingestap gekom. Die twee het mekaar op straat raakgeloop en net daar het die hoof oom Hansie omgepraat om terug te kom skool toe. Met Brönn se ingryping is oom Hansie toegelaat om die werk vir twee standerds binne ses maande onder die knie te kry. Hy was uiteindelik een van die 17 uit 20 matrieks wat in 1947 met universiteitsvrystelling sy ses vakke geslaag het.

“Ek salueer die oud-hoof en die onderwysers wat iets van my lewe gemaak het,” sê oom Hansie.

Een van sy onderwysers, mnr. Jannie Mulder, het later ‘n goeie huisvriend geword en was die seremoniemeester die dag toe oom Hansie (bykans 60 jaar gelede) met sy wederhelf, tannie Corrie, getrou het. Die egpaar se kinders, Nonna en Johan, het ook die voorreg gehad om hulle skoolloopbaan te voltooi by Hoërskool Louis Trichardt.  

 
 
 

Viewed: 1351

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Oom Hansie Uys wys vir mnr. Louis Cilliers sy plakboek waarin hy oor die jare geskiedkundige uitknipsels versamel het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT