ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Louis Cilliers.

“Ons wil nie leerlinge straf nie, maar eerder help”

Date: 06 June 2016 By: Isabel Venter

Hoërskool Louis Trichardt het hierdie week hul besluit verdedig om die polisie toe te laat om ‘n dwelmklopjag by die skool te hou.

Sedert die klopjag op 24 Mei, het ‘n paar ouers egter hul ongelukkigheid uitgespreek oor die klopjag en bewerings gemaak dat hul kinders se menseregte geskend is.  

“Ons wil nie leerlinge straf nie, maar eerder help om eendag suksesvolle en verantwoordelike landsburgers te kan wees, en daarom was hierdie klopjag nie net nodig nie, maar ook ‘n positiewe stap in die regte rigting,” het skoolhoof mnr. Louis Cilliers gesê. Klopjagte by skole is nie ongewoon nie. ‘n Soortgelyke dwelmklopjag deur die polisie is verlede week by Hoërskool Pietersburg (PHS), met die skool se toestemming, uitgevoer. Ook daar het verskeie leerlinge positief getoets vir die moontlike gebruik van dwelms.

Cilliers het gesê dat die besluit om die klopjag uit te voer nie ligtelik geneem is nie. Hy het verduidelik dat dit deel is van die skool se strategie om ‘n positiewe ingryp te maak in leerlinge se lewens. “Die probleem van dwelmmisbruik by skole is nie uniek aan Hoërskool Louis Trichardt nie. Baie skole skram weg van die probleem. Dit is nie wat ons wil doen nie, want ons wil die probleem daadwerklik aanspreek. Dit gaan op die ou end vir ons oor die belang van elke kind,” het Cilliers gesê. Hy het bygevoeg dat Hoërskool Louis Trichardt se besluit in lyn is met die Minister van Onderwys se opdrag om skole dwelm- en wapenvry te maak.

Die Makhado Polisie het saam met lede van hul kinderbeskermings- en honde-eenheid verlede week by die skool opgedaag om leerlinge te toets vir dwelms of ander verbode middels. Ouers is ‘n week tevore per omsendskrywe ingelig van die skool se besluit om ‘n klopjag uit te voer.

Buiten dat leerlinge se tasse en sakke deursoek is, was daar ook dié wat ‘n urine multi-dwelmtoets moes ondergaan. Die toets het vir vyf verbode middels getoets, naamlik morfien (opiate), amfetamiene, metamfetamiene, benzoylecgoniene (kokaïne) en tetrahydrocannabinol (dagga).

Altesaam 19 leerlinge het positief getoets. In terme van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977) word ‘n positiewe toetsuitslag geag as in besit van narkotika te wees, en daarom is al 19 leerlinge tydelik in aanhouding geplaas, sodat meer akkurate bloedtoetse gedoen kon word. Hulle ouderdomme het gewissel tussen 15 en 18 jaar en daarom mag hulle name nie bekendgemaak word nie.

Al 19 die leerlinge is eers na die polisiestasie geneem, waar hulle aangekla en bloedmonsters by hulle geneem is. Hierna is hulle na die Louis Trichardt Distrikshof geneem, waar hulle aangekla is van die onwettige besit van narkotika.

Die leerlinge het Maandag weer in die hof verskyn, waartydens die Staat die klagte teen ses van die leerlinge voorlopig teruggetrek het wat positief getoets het vir opiate. Die Staat het aangevoer dat hierdie leerlinge weer aangekla kan word, afhangende van die uitslag van hul bloedtoetse. ‘n Bloedtoets, het die Staat verduidelik, kan bepaal hoeveel narkotiese stowwe in iemand se sisteem is, en ook onderskei tussen medisinale en onwettige misbruik. Sekere medisynes – en veral hoesstroop wat kodeïen bevat – kan ‘n positiewe dwelmtoets gee vir heroïne, kokaïne en metamfetamiene. Die oorblywende 13 leerlinge sal na verwagting ‘n ingrypingsprogram moet voltooi as deel van hulle straf, en om te verhoed dat hulle ‘n permanente kriminele rekord sal hê.

Cilliers het dit duidelik gestel dat die skool in terme van die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) opgetree het en uit hul pad gegaan het om te verseker dat die kinders se regte nie geskend word nie. Hy het ook verduidelik dat die klopjag nie net lukraak uitgevoer is nie. Sowat ses weke gelede is daar leerlinge op heterdaad betrap met dagga in hul besit. Dit het die skool en beheerraad aangespoor om, in belang van al die ander leerlinge se veiligheid, daadwerklik in te gryp. Cilliers het gesê dat die skool vooraf toestemming van die Departement van Basiese Onderwys verkry het, voordat die polisie genader is om ‘n klopjag uit te voer.

Van die ouers wie se kinders aangekla is, het egter beweer dat die skool nie die regte toetsprosedure gevolg het nie. Hulle het ook gevoel dat die skool nie genoeg gedoen het om te verseker dat onskuldige kinders nie onnodig blootgestel word aan ‘n kriminele proses nie. Daar was ook ongelukkigheid dat die skool nie dadelik die ouers van die kinders wat gearresteer is in kennis gestel het nie.

Hierop het Cilliers gesê dat nie hy of onderwysers by die skool opgelei is om die dwelmtoetse uit te voer nie, en daarom is die hulp van die polisie ingekry. Die oomblik wat die polisie by die skool opgedaag het, het personeel nie ingemeng met die polisie se werk nie. Cilliers het beklemtoon dat die regte prosedures gevolg is. Hy het wel verskoning aangebied dat die ouers nie dadelik in kennis gestel is dat hul kinders na die polisiestasie geneem is. “As ‘n ouer myself kan ek ouers se skok verstaan as hulle kinders positief toets vir dwelms – skuldig of onskuldig,” het Cilliers gesê. Hy het gesê dat daar aan die res van die skool verduidelik sal word dat van die leerlinge onskuldig is.

 
 
 

Viewed: 2292

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT