ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Ronnie Levine (82).

Hartseer vaarwel aan oom Ronnie

Date: 04 June 2016 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het met hartseer finaal afskeid geneem van nog een van sy legendariese persoonlikhede, die 82-jarige oom Ronnie Levine wat op 21 Mei oorlede is.

“As man was hy ‘n besonderse mens gewees met ‘n wonderlike sin vir humor. Hy was ‘n dierbare mens gewees. Nie net het hy vir my gesorg het nie – hy was ook die skouer waarop ek kon huil,” het sy eggenote, en eweneens bekende, tannie Koeba Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Wyle oom Ronnie was in murg en been ‘n kind van die Bosveld. Sy pa, ‘n volbloed Jood van Engeland, het bykans ‘n eeu gelede in Suid-Afrika aangekom. Hier het hy ‘n Suid-Afrikaanse nooi getrou en het die egpaar hulle in die destydse Messina gevestig, waar oom Ronnie gebore is. Hulle sou na oom Ronnie se geboorte hom later na Johannesburg stuur waar hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het, waarna oom Ronnie as jong man teruggekeer het na sy geboortedorp. Hier het hy hom bekwaam as elektrisiën by die destydse Messina Kopermyn.

Rondom 1974 besluit oom Ronnie om sy vlerke te sprei en verhuis na Louis Trichardt waar hy Sinewave, wat vandag nog bestaan, begin.

Dit was hier in Louis Trichardt waar oom Ronnie later jare vir tannie Koeba sou ontmoet. Tannie Koeba, ‘n nooi Louw, is self ‘n boorling van die Soutpansberg. Ná ‘n paar jaar van afwesigheid uit die streek keer sy in 1989 na die dorp terug waar sy haar voete in die eiendomsbedryf kom vind het. Binne die eerste jaar na haar terugkoms het die twee mekaar een keer by die gholfklub raakgeloop. Oom Ronnie was in daardie stadium ‘n kranige gholfspeler. “Die hele huis staan nog vol van gholftrofeë wat hy gewen het,” sê tannie Koeba.

Ná ‘n paar jaar van vlerksleep is die twee einde 1993 met mekaar getroud. Die vlerksleep het bietjie lank aangehou, want beide was voorheen getroud en skrikkerig om weer te trou. Dit was egter oom Ronnie se absolute toewyding aan haar, sê tannie Koeba, soms deur moeilike tye, wat hulle bymekaar gebring het.

Ná oom Ronnie en tannie Koeba se troue het oom Ronnie Sinewave verkoop en hom toegespits op privaat elektriese werk. Intussen het tannie Koeba haar eie eiendomsagentskap begin en saam het die twee bekende huishoudelike name in die dorp geword.

Oom Ronnie was ‘n entoesiastiese sportman gewees. Buiten vir gholf, het hy ook vir Noord-Transvaal hokkie gespeel. So ook het hy krieket en muurbal gespeel. Oom Ronnie se groot liefde waarvoor hy veral bekend was, sê tannie Koeba, was egter vir skiet gewees. “Sy skiet was vir hom verskriklik belangrik. Hy het dit baie geniet,” sê tannie Koeba. In die weermag, sê sy, het hy talle pryse vir skiet gewen.

Oom Ronnie was tot onlangs toe nog ‘n baie aktiewe lid van die Soutpansberg Skietklub. Dit was ook nie vreemd om sy foto in die koerant te sien pronk as gereelde pryswenner tydens die klub se skietkompetisies nie. Daarbenewens was hy ook hoof skietbaanbeampte van die Bosveld Jagtersvereniging en het hy gereeld ook skietpraatjies vir die vereniging aangebied.

Oom Ronnie het nooit regtig afgetree nie. Hy het egter die afgelope paar maande dramaties begin afskaal op sy aktiwiteite, nadat hy einde verlede jaar met beenmurgkanker gediagnoseer is. “Nadat hy gediagnoseer is, het sy gesondheid vinnig agteruit gegaan,” sê tannie Koeba. Hy is kort ná middernag op 21 Mei in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede.

‘n Roudiens was Maandag, 30 Mei, vanuit die Gereformeerde Kerk in Louis Trichardt vir wyle oom Ronnie gehou. Die diens is waargeneem deur prof. Koos van Rooy. Hy word oorleef deur sy eggenote, tannie Koeba, vier kinders en kleinkinders.

 
 
 

Viewed: 1860

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT