ADVERTISEMENT:

 

 
 

DNS-toetse sal bepaal wie tereg staan

Date: 19 May 2016 By: Isabel Venter

Dit gaan onder omstandighede goed met die gesin van Louis Trichardt wat vroeër in die jaar in hul huis aangehou en wreed gemartel is.

Die 77-jarige ouma is saam met haar twee kleinseuns (30 en 23) en die oudste kleinseun se vrou (24) op 6 Maart deur ses rowers aangehou.  Die jong vrou is vier keer verkrag deur vier verskillende rowers, terwyl die res van die gesin met sambokke en bakstene geslaan is. Die rowers het skynbaar geld geëis. Hulle het ná ure die gesin gelos en weggevlug met ‘n DVD-speler en almal se selfone.

By navraag hierdie week het die ouma bevestig dat dit fisies met die 24-jarige vrou goed gaan. Sy het ‘n streng program van antiretrovirale medisyne gevolg ná haar nagmerrie ervaring. Volgens haar toetsuitslae het sy nie enige virusse opgedoen nie. Die jong vrou se emosionele letsels is egter nog rou op die oppervlakte. Volgens die ouma kry die vrou gedurig nagmerries, ten spyte van die berading wat sy ontvang het.

Die vrees het die res van die gesin ook nog nie gelos nie, wat hulle genoop het om hulle huis in die mark te sit.  Ongelukkig, vertel die ouma, was die prys nie reg nie en het hulle besluit om eers nog ‘n rukkie te wag.  

Vir nou, het die ouma gesê, staan hulle mekaar finansieel en emosioneel by om te oorleef. Sy voeg ook by dat die alarmstelsel in die huis hulle ‘n bietjie meer gerus laat slaap in die aande en dat haar oudste kleinseun werk gekry het by ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy. “Dit help ook ‘n bietjie,” het die ouma gesê.

Die familie kan steeds nie geïdentifiseer word nie, omdat die polisie se ondersoek nog nie voltooi is nie.

By navraag het die Makhado Polisie bevestig dat hulle sedert die aanval altesaam vyf verdagtes gearresteer het wat moontlik verbind kan word met die saak. Die gesin het uitkenningsparades bygewoon en het glo sekere verdagtes uitgeken. DNS-monsters is ook geneem by die verdagtes om te bepaal of dit hulle was wat die oudste kleinseun se vrou verkrag het tydens die aanval.

Buiten vir dié uitslae waarop die polisie wag, word daar ook gewag vir selfoonrekords. Sonder hierdie inligting kan die polisie nie voortgaan en die verdagtes in die saak aankla nie. Die nasionale kantore van die polisie, wat beide die DNS- en SMS-uitslae moet verwerk, is egter oorlaai en dit kan nog maande wees voor die uitslae bekend is.

 

 
 
 

Viewed: 904

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT