ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaas- en gemeenskapslede staan langs die Levubu/Mashau-kruising waar hulle verhoed het dat 'n oproerige skare Levubu binnekom. Foto verskaf.

Tot hier toe!

Date: 16 May 2016 By: Isabel Venter

“Ons het ‘n potensiële Marikana afgeweer.” Só het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), mnr. Stephen Hoffman, Dinsdag gesê nadat lede van die boerevereniging en Levubu inwoners, saam met die plaaslike polisie, ‘n skare oproerige stakers gestuit het.

Die skare het verlede Woensdag na Levubu opgeruk. Die inligting wat die SDLU ontvang het, was dat die oproeriges op pad was na Levubu om, na bewering, Laerskool Levubu af te brand, soortgelyk aan skole wat die afgelope week in die geweld-geteisterde Vuwani-area verwoes is.

Volgens die polisie en Departement van Basiese Onderwys het ontevrede Vuwani inwoners tot op hede 24 skole afgebrand of gevandaliseer. Die betogers is glo vies omdat die Hooggeregshof in Polokwane hulle aansoek om nie onder ‘n nuwe Malamulele Munisipaliteit geklassifiseer te word nie, van die hand gewys het.

Regter-President Efraim Makgoba het op 29 April gesê die munisipale afbakeningsraad het binne hul magte opgetree toe hulle Vuwani se nuwe grense vasgestel het. Vuwani se inwoners sê hulle is nie vooraf gevra wat hulle wil hê nie.

Betogers het voorverlede week skole in die Vuwani-area begin teiken en afbrand. Meeste van die skole is geleë in Bungeni, Vuwani, Vyeboom, Masia en Mashau. Sover daar vasgestel kon word, het meeste van die skole ook opgetree as geregistreerde verkiesingspunte.

Laerskool Levubu is ook ‘n verkiesingspunt, en is daarom glo geteiken deur die betogers.

SDLU-lede, boere, onderwysers en ouers van die skool het egter die polisie bygestaan. Hul boodskap aan die betogers was duidelik: Tot hier toe en nie verder nie!

Die groep oproerige betogers het vanaf die Mashau-kruising se rigting gekom. “Ek sou nie sê dit was ‘n skare van duisende nie, maar daar was seker maklik meer as ‘n 100 van hulle gewees,” het Hoffman gesê. Hy en ander boere in die omgewing het groot lof gehad vir die polisie, en die feit dat hulle bereid was om Levubu se mense te beskerm. “Ons het nie enige opleiding in onlustebeheer nie, en dinge kon baie lelik uitgedraai het as die skare geweldadig begin raak het,” het Hoffman gesê.

Met die polisie en boeregemeenskap wat vir die betogers gewag het, het die betogers hul planne om tot in Levubu te marsjeer laat vaar en omgedraai. “Ek kan nie sê wat hulle laat besluit het om om te draai nie. Ons is net dankbaar dat hulle van plan verander het en nie kom skade maak het in Levubu of die omliggende plase nie,” het Hoffman gesê.

Sedert die voorval is sekuriteit in die area opgeskerp. Plaaswaglede ry nou elke aand patrollie om te voorkom dat enige geweld in Levubu uitbreek.

Wat boerderypraktyke betref, het Hoffman gesê, is daar nie drastiese onderbrekings nie. Daar is wel hier en daar ‘n plaas wat gerapporteer het dat van hulle werkers nie toegelaat word om te kom werk nie. Dit, het Hoffman gesê, is ‘n ongerief, maar kan nie vergelyk word met die kragonderbrekings van drie weke gelede nie. Daar is nog steeds boere wat sukkel om die agterstand in te haal, en heelparty wat ‘n deel van hulle oes moes afskryf weens munisipale werkers wat gestaak het en kraglyne gesaboteer het.

“Werkers wat nie kan kom werk nie, sal ons nie so dramaties of oor die lang termyn affekteer nie, alhoewel ‘n ouer wat bekommerd is oor sy kind se toekoms nie ‘n produktiewe werker sal wees nie. Dit is egter nie die hartseerste van die saak nie. Die kinders wat nie kan skool toe gaan nie, veral die jonges, wat gaan van hulle word?” het Hoffman gevra.

Hoffman spekuleer dat dit werklose mense is wat die oproerigheid aanhits. “Dit is hartseer dat hulle goeie werkende mense verhinder om ‘n inkomste te verdien en kinders uit die skool hou,” het Hoffman gesê.

Intussen is Vuwani, Dinsdag amptelik as ‘n rampgebied verklaar deur die Limpopo provinsiale regering. Die besluit is geneem, sodat fondse beskikbaar gestel kan word om skole te herstel.

 
 
 

Viewed: 1775

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Plaas- en gemeenskapslede staan langs die Levubu/Mashau-kruising waar hulle verhoed het dat 'n oproerige skare Levubu binnekom. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT