ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaasmoorde en -geweld nou as prioriteit hanteer

Date: 13 May 2016 By: Isabel Venter

Die polisie het verlede week afgekondig dat hulle nou amptelik van plaasmoorde ‘n prioriteit gaan maak.

Verlede Donderdag was senior bestuurslede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en burgerregte groep AfriForum in gesprek met mekaar. Volgens AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, mnr. Ernst Roets, het dié vergadering ‘n werklikheid geword nadat die waarnemende nasionale polisie kommissaris, lt-genl. Khomotso Phalane, vroeër aangedui het dat plaasmoorde (en ander misdade teen die landbougemeenskap) groter prioriteit moet geniet.

In ‘n verklaring uitgereik deur die SAPD dui die polisie aan dat voorvalle van landelike misdaad en geweld as groeiende tendens geïdentifiseer is in die 2016/17 finansiële boekjaar. Dit was dan ook hul grootste motivering om daadwerklik op te tree teen sulke misdade en derhalwe die besluit om plaasmoorde en –aanvalle te prioritiseer.  

“Dit is om dié rede dat ons besluit om hierdie voorvalle as dade van geweld teen persone wat woon, werk of besoek bring aan plase en kleinhoewes, behoorlik  te definieer, hetsy dit is met die opset om te moor, verkrag, roof of leed aan te doen,” het Phalane gesê. “Dit sluit in plaaseienaars, plaaswerkers en alle ander landsburgers, ongeag ras, geloof, godsdiens of geslag,” het Phalane bygevoeg. Die nuwe afbakening sal ook geld vir enige ander geweldsmisdade waarin eiendom of infrastruktuur vernietig word met die opset om wettige boerdery-aktiwiteite te ontwrig.

Die SAPD het hulself daartoe verbind om hulle gewig saam met AfriForum en ander georganiseerde landbou-unies in te gooi en deur middel van samewerking plaasaanvalle stop te sit.

Volgens die polisie se analise van die 2016/17-misdaadstatistieke is dit dikwels een, twee of tot en met agt persone wat betrokke is by ‘n plaasaanval. Die aanvallers is ook meestal mans, gewoonlik buitelanders, en tussen die ouderdomme van 20 en 35. Slagoffers is dikwels 50 jaar en ouer.

Die polisie het verder berig dat daar 80 plaasmoorde aangemeld was in die 2010/11 finansiële jaar. Hierdie syfers het gedaal na 49 in die 2015/16 finansiële jaar. Eweneens, het die polisie gesê, het voorvalle van geweld op plase en kleinhoewes gedaal van 532 in die 2010/11 boekjaar tot 446 in 2015/16.

Volgens die polisie het hulle KwaZulu-Natal, Noordwes, Limpopo en Gauteng geïdentifiseer as knelpunte met polisiestasies waar daar twee of meer voorvalle van of moord of ander geweldsmisdade aangemeld is, spesifiek met betrekking tot plase. Dié 11 stasies is KwaDukuza (KwaZulu-Natal), Brits, Rustenburg, Mooinooi (Noordwes), Hercules, Hekpoort en Muldersdrif (Gauteng), Modimolle, Westenburg, Letsitele en Lephalale (Limpopo).

Die polisie het nie aangedui hoeveel skuldige plaasaanvallers tronkstraf opgelê is nie, maar het wel bevestig dat daar vonnisse van tussen 25 en 80 jaar opgelê is vir mense wat skuldig bevind is aan plaas-verwante misdade.

 
 
 

Viewed: 971

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT