ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Stopteken, met sy ysterpaal en al, is al besig om toe te groei onder die bossies, so lank lê dit al vergete op die hoek van De Le Reystraat en Forestryweg.

Gebrek aan stoptekens wek kommer

Date: 07 May 2016 By: Isabel Venter

Die waarskuwing oor Limpopo se paaie, wat van die gevaarlikste in die wêreld is, is weliswaar besig om vinnig ‘n realiteit te word net hier in Louis Trichardt.

Die LUR vir Vervoer, mev. Mapula Mokaba Phukwana, het sowat twee weke gesê daar sal drastiese stappe geneem moet word om die veiligheid van motoriste te beskerm op die provinsie se paaie. Louis Trichardt se eie paaie is vinnig besig om op ‘n ramp af te stuur. Veral vierrigtingkruisings is bitter gevaarlik – dag en nag.

Behalwe vir kruisings waar waarskuwingslyne al verdof het, is hier amper geen stoptekens meer oor in die dorp nie. Die rede, volgens die Makhado Munisipaliteit, is omdat die ysterpale afgesteel word.

By navraag het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê die munisipaliteit is in die proses om die ysterpale met houtpale te vervang. Hy het nie enige verdere kommentaar gehad toe daar vir hom uitgewys is dat die munisipaliteit sekerlik nie dié pale sal oprig te midde van al die stakings nie. Bobodi het ook nie in ag geneem dat dit dieselfde belofte is wat gemaak is deur die munisipaliteit in 2014 nie.

In 2014 was daar verskeie ongelukke wat toegeskryf kon word aan die gebrek aan padtekens. Die koerant het op 4 April 2014 een so ‘n ongeluk, waarin twee voertuie afgeskryf is op die hoek van Alwyn- en Leeustraat, onder die munisipaliteit se aandag gebring. In daardie stadium was stoptekens op die hoek van Eland- en Boababstraat, asook Duiker- en Boababstraat, reeds weke lank vermis.

Vandag sien die situasie veel erger daar uit, soveel so dat dit nuus is as daar wel ‘n stopteken by ‘n kruising is. Veral Malva- en Leeustraat kan beskryf word as van dié gevaarlikste strate in die nuwe uitbreiding. Die strate het weinig tot geen stoptekens nie. Op die koop toe het die stoplyne op die padoppervlakte ook onsigbaar verdof.

Stoptekens in die ouer strate van die dorp is ook vinnig besig om te verdwyn. Verlede week het lesers laat weet dat stopborde op die hoek van De La Rey- en Forestryweg, asook Anderson- en Ruhstraat, nie meer in plek is nie. Ander kruisings sluit in Douthwait- en Jeppestraat en Krogh- en Ruhstraat. In Kroghstraat is daar ook heel party stoptekens wat versper word met laaghangende boomtakke.

Die koerant het die afgelope week gaan kyk of die ysterpale wel vervang word met houtpale. In die omgewing van die hoër- en laerskool, Skuldbult en die sentrale sakegebied rondom die munisipaliteit is daar orals net ysterpale – in verskillende stadiums van roes – opgemerk.

 
 
 

Viewed: 1199

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Stopteken, met sy ysterpaal en al, lê al vir maande vergete op die hoek van De Le Reystraat en Forestryweg. Terwyl die koerant besig was om die stopteken af te neem, het twee voertuie bloot net die kruising oorgesteek sonder om te stop.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT