ADVERTISEMENT:

 

 
 

Willem de Klerk, ‘n welbekende prokureur van Johannesburg en kenner op die gebied van mediareg. Foto verskaf.

Ken jou regte as dit kom by lasterlike beriggewing

Date: 05 May 2016 By: Andries van Zyl

Die Zoutpansberger kry elke nou en dan ‘n oproep of prokureursbrief van lesers of inwoners wat voel daar was lasterlike beriggewing oor hulle in die koerant.

Dit is egter duidelik dat baie mense nie weet hoe wetgewing, spesifiek mediareg, in Suid-Afrika hieroor werk nie. Die Zoutpansberger het dit derhalwe goedgedink om op gereelde basis ‘n artikel te plaas oor presies hoe die wet werk ten opsigte van die publiek, sowel as die koerant se regte ten opsigte van wetgewing. Die artikels is saamgestel deur Willem de Klerk, ‘n welbekende prokureur van Johannesburg en kenner op die gebied van mediareg.

Die eerste van die artikels word spandeer om te verduidelik wat presies laster is. De Klerk verduidelik dit soos volg:

Die Grondwet waarborg aan elke persoon die reg op menswaardigheid. Dit word beskou as een van die hoekstene van ons demokratiese bestel. Wanneer iemand dus jou goeie naam en reputasie skend deur laster te pleeg, is jy in beginsel geregtig op toevlug tot die reg.     

Maar wat is laster? Dit is wanneer ‘n persoon se goeie naam en reputasie geskend word deur die publikasie van lasterlike woorde. By laster is die vraag nie hoe jy self voel oor die publikasie nie, maar of regdenkende mense by kennisname van die publikasie geneig sal wees om minder van jou te dink. Die hof gebruik ‘n fiktiewe “redelike mens” (wat dikwels beskryf word as die gemiddelde mens op straat) as maatstaf om te bepaal of ‘n stelling lasterlik is of nie.

Ook belangrik is dat “publikasie” enige vorm van kommunikasie insluit, hetsy deur die gesproke woord, geskrewe woord of selfs foto’s. Laster kan gepleeg word op enige platform en in enige formaat, insluitend op webtuistes, blogs, sosiale media en in koerante.

Die grondwet beskerm egter ook ander regte. Die reg op vryheid van spraak is, net soos die reg op menswaardigheid, ‘n integrale deel van ons demokratiese bestel. Gevolglik moet die reg ‘n balans handhaaf tussen verskillende, dikwels mededingende, menseregte. Elke saak word op sy eie meriete beoordeel om te bepaal welke reg onder bepaalde omstandighede sal seëvier. 

Vryheid van spraak beteken die publikasie van lasterlike stellings word somtyds beskerm. Dit is byvoorbeeld regmatig om lasterlike stellings te publiseer wat in die openbare belang is. Ook as dit kom by verslaggewing oor hofverrigtinge, geniet die media vrywaring teen lasteraksies, solank die verrigtinge billik en akkuraat weergegee word. Die beginsel hier is dat regspleging in die openbaar plaasvind en dat dit van die media verwag word om verslag te doen oor dit wat in die howe gebeur, al is dit lasterlik ten opsigte van sommige partye.   

Die media maak egter soms foute. Mense wat onregmatig belaster word, het wel remedies. Daardie remedies sal in die volgende artikel bespreek word.

 
 
 

Viewed: 1393

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT