ADVERTISEMENT:

 

 
 

Limpopo paaie van die gevaarlikste ter wêreld

Date: 16 April 2016 By: Isabel Venter

Die Limpopo provinsie se paaie is van die gevaarlikste in die wêreld. Dit aldus die LUR vir vervoer, mev. Mapula Mokaba-Phukwana. Sy het dié onthulling gemaak tydens die onlangse provinsiale begroting van haar departement vir die tydperk 2016/17.

Volgens Mokaba-Phukwana is die groot aantal toeriste en besoekers aan Limpopo een van die hoofredes wat bydra tot die provinsie se hoë padsterftesyfer. Nog ‘n rede is die duisende volgers van die Zion Christian Church (ZCC) wat jaarliks by Moria saamtrek vir die Paasnaweek. Boon-op, het Mokaba-Phukwana gesê, word die provinsie se paaie gebruik as ‘n deurgangsroete na Suid-Afrika se buurlande.

Alhoewel vanjaar se padsterftes op Limpopo se paaie afgeneem het van 49 tot 25 oor die Paasnaaweek, sê Mokaba-Phukwana kan daar nog baie meer gedoen word om dié syfer af te bring. Limpopo is, naas KwaZulu-Natal, die provinsie met die meeste padsterftes.

Tydens die 2015/16-boekjaar het verkeersbeamptes meer as ‘n miljoen (1 633 212) voertuie by padblokkades gestop en deurgesoek. 'n Totaal van 1 622 motoriste is weens dronkbestuur in hegtenis geneem en 2 873 voertuie was onpadwaardig.

Juis om hierdie rede, het Mokaba-Phukwana gesê, gaan haar departement hulle nuwe begroting van R1,9 miljard aanwend om paaie te beveilig. ‘n Groot gedeelte van die begroting sal gaan om die dood van voetgangers te verminder. R527,33 miljoen van die begroting is aan administrasie toegeken, R850,75 miljoen sal deur verskeie vervoeroperasies gebruik word en R501,07 miljoen is vir vervoerregulasies toegeken.

 
 
 

Viewed: 1041

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT