ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Vermeende kapers sê hulle was bloot rylopers

Date: 16 April 2016 By: Isabel Venter

Twee vermeende kapers se verhoor het verlede week hier in die Louis Trichardt Streekhof hervat.

Norman Raluswinga (30) en Tumelo Matshipi Naledzani (33) is op 9 September 2014 in hulle spore gestuit deur ‘n gesamentlike poging van die plaaswag, die Soutpansberg Dorpswag en die Makhado SAPD. Hulle word daarvan aangekla dat hulle op dié datum ‘n sakeman, mnr. Abdool Patel, in die omgewing van die Witvlag-grondpad voorgelê en beroof het.

Die twee staan tereg op ‘n enkele klagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Hulle het onskuldig gepleit op al dié klagtes.

Tydens hulle verhoor verlede Dinsdag en Woensdag het die mans se regsverteenwoordigers aangedui dat hulle kliënte onskuldige rylopers was. Die mans beweer dat hulle tydens hulle arrestasie bloot vir ‘n saamrygeleentheid betaal het in ‘n taxi vanaf die Piesanghoek-afdraai tot in Louis Trichardt. Hulle beweer dat hulle deur lede van die dorpswag geslaan is en later deur polisiemanne gedreig is om sekere bekentenisse te maak oor die roof op Patel.  

Volgens Patel se getuienis is hy op die betrokke dag deur Raluswinga en Naledzani van die pad gedwing en aangehou met ‘n vuurwapen. Hulle het nagenoeg R10 000 kontant by hom gesteel, hom met pepersproei bygedam, langs die pad gelos en met sy bakkie gevlug. Tydens dié hofverskyning het Raluswinga en Naledzani aangedui dat die geld wat by hulle gevind is tydens hul arrestasie, hulle eie was waarmee hulle ‘n sweismasjien wou aankoop in Louis Trichardt.

Nog ‘n staatsgetuie, mnr. Jean-Pierre Nel, het getuig dat hy ‘n bakkie agtervolg het wat teen ‘n hoë spoed gejaag het op die Witvlag-pad. Hy het getuig dat hy gesien het hoe Raluswinga en Naledzani ‘n wit bakkie in die bosse naby die Piesangshoek-afdraaipad parkeer, uitklim en na die Thohoyandou/Levubu-pad se rigting aanstap en ‘n taxi aftrek. Dié inligting het Nel deurgegee aan die dorpswag, wat die taxi ingejaag en afgetrek het.

Tydens verlede week se hofverrigtinge het die bestuurder van die taxi, mnr. Phaneul Netenanda, getuig dat hy op pad was van Thohoyandou na Louis Trichardt met sewe passasiers. Hy het gestop en  Raluswinga en Naledzani langs die Piesangshoek-pad opgelaai en R10 elk gevra om hulle tot in Louis Trichardt te bring. Hy het getuig dat hulle die enigste passasiers is wat hy langs die pad opgelaai het, en dat hulle heel agter in die taxi gaan sit het, weg van die ander passasiers. Netenanda het ook getuig dat hy, op instruksie van die dorpswag en polisie, die agterste sitplekke platgeslaan het op soek na die vuurwapen wat gebruik is tydens die roof op Patel. Die vuurwapen, het Netenanda gesê, is gekry op die vloer van die bussie, naby die plek waar Raluswinga en Naledzani se voete sou gewees het.

Ná Netenanda se getuienis is Raluswinga en Naledzani se saak uitgestel tot 27 tot 29 Junie vir verdere getuienis. Die Staat sal dan na verwagting probeer om ‘n verklaring waarin Raluswinga sekere bekentenisse maak oor die roof voor die hof te bring.

 
 
 

Viewed: 945

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT