ADVERTISEMENT:

 

 
 

Makhado Munisipaliteit

Lisensiekantoor amper weer in volle werking

Date: 15 April 2016 By: Isabel Venter

Daar is nog steeds ‘n paar haakplekke by die lisensiekantoor van die Makhado Munisipaliteit.

Dit volg nadat die munisipaliteit reeds in November verlede jaar tegniese probleme begin ervaar het met hul datavasleggingmasjiene wat gebruik word om aansoeke vir rybewyse of die hernuwings daarvan te prosesseer. Nou is dit die rekenaars wat gebruik word om die oogtoetse en vingerafdrukke te neem wat probleme gee.

Die munisipaliteit het vir ‘n ruk lank nog aansoeke ontvang deur dit op die ou manier op papier in te vul. Met die aanbreek van die nuwe jaar het die munisipaliteit se aansoekvorms opgeraak, en moes hulle inwoners wegwys na ander lisensiekantore in die streek.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het gedurende Februarie bevestig dat die rekenaars herstel moet word deur die Limpopo Departement van Verkeer. Intussen het die departement tegnici uitgestuur in ‘n poging om die munisipaliteit se stelsel weer op die been te kry.

Daar het egter ietwat van ‘n verwarring ontstaan tussen die munisipaliteit en die departement. Die Zoutpansberger het gedurende Maart verskeie kere by die departement probeer uitvind hoekom hulle nie die munisipaliteit vroeër uitgehelp het nie. Die departement se woordvoerder, me. Kagiso Mootane, het ondersoek ingestel en weke later eers gereageer op die koerant se navraag. Volgens haar het die munisipaliteit glo nooit die departement in kennis gestel dat die rekenaarstelsel nie werk nie. Sy het verduidelik dat daar glo ‘n spesifieke prosedure is wat gevolg moet word in sulke gevalle. “Hulle [die munisipaliteit] kan nie net sê hulle het die departement gebel om die stelsel te kom reg maak nie,” het Mootane telefonies gesê.

Enige versoek aan die departement moet glo skriftelik gerig word aan die provinsiale direkteur se kantoor, wat die munisipaliteit glo nooit gedoen het nie. Die hoof verkeersbeampte van die munisipaliteit, mnr. Francis Mokiri, het by navraag bevestig dat hulle wel ‘n aansoek gebring het by die departement. “Hulle jok as hulle gesê het ons het nooit aansoek gedoen nie,” het hy hierdie week aan die koerant gesê. Hy en Bobodi het Dinsdag bevestig dat die rekenaarstelsel nou in so ‘n mate herstel is dat hulle meeste van die tyd aansoeke kan ontvang.

Maar wat staan inwoners te doen as die rekenaar nié werk nie? “Dan sal ons maar net vir mense vra om die volgende dag terug te kom,” het Mokiri pragmaties gesê.

Intussen kan inwoners nog steeds ander verkeerskantore op Thohoyandou, Soekmekaar, Vuwani, Elim en Musina nader. Die Makhado Munisipaliteit se verkeerskantoor kan ook gekontak word by tel. 015 516 3224 om uit te vind wat die aanlynstatus van hul stelsel op ‘n betrokke dag is.

 
 
 

Viewed: 783

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT