ADVERTISEMENT:

 

 
 

Johann du Plessis by die eerste uitgawe van die Zoutpansberger wat in Januarie 1985 verskyn het.

Gemeenskap sê totsiens aan Johann Koerant

Date: 14 April 2016 By: Anton van Zyl

Diegene wat al jare lank in die bedryf is, sal dit bevestig – koerantwese word deel van jou DNS. Dit word ‘n onskeibare deel van die boublokkies wat van jou ‘n totale mens maak. Toe ek Johann in 1990 vir die eerste keer ontmoet het, was dit duidelik dat die koerant saam met hom reis, dat dit lank reeds deel van sy persoonlikheid geword het.

Johann het amptelik in Januarie 1985 op Louis Trichardt gearriveer, so saam met die karavaan wat agter sy Peugeot gesleep is. Sy idee was om ‘n eie koerant, die Zoutpansberger, vir die streek se mense op die been te kry. Hier het hy vir Petrus Munonde raakgeloop en terwyl hy nuus ingesamel het en advertensies verkoop het, het Petrus foto’s ontwikkel en al die los take verrig. Aanvanklik was dit sommer so vanuit die munisipale karavaanpark, terwyl hy gereël het vir kantoorspasie. Gaandeweg het nog mense by hom aangesluit, ook sy vrou Melinda.

Vir baie sal so ‘n werkswyse vreemd wees, maar nie vir Johann nie. Dit was waarskynlik dié stewige skoot opportunisme wat van hom ‘n goeie besigheidsman gemaak het. Hy het ‘n geleentheid raakgesien en geglo in sy vermoë om dit te laat werk.

Johann is op 30 Oktober 1947 in Johannesburg gebore. Dit is ook hier waar hy sy eerste ervaring met koerante opgedoen het toe hy as jong man in die advertensie-afdeling van die dagblad, die Citizen, begin werk het. Hierna is hy verder noord, na Pietersburg, waar hy Robert en Naomi de Jager gehelp het om die Northern Review op te bou. As advertensiebestuurder het Johann binne ‘n relatiewe kort tydperk daarin kon slaag om die koerant se omset beduidend te verhoog en dit die grootste koerant noord van Pretoria te maak.

Op Louis Trichardt het Johann vinnig sy merk gelaat. Hy het besef dat jy nie deel van ‘n gemeenskap word deur onbetrokke te bly nie. Hy het self foto’s by funksies geneem, sportwedstryde bygewoon en advertensies gewerf. Van hier spruit ook sy bynaam, Johann Koerant.

Een van Johann se gunsteling tydverdrywe was gholf. Hy was ‘n gereelde gesig op die baan en het sy bes gedoen om sy voorgee onder 20 te kry. Dit was nie altyd vir hom moontlik nie, maar aan entoesiasme was daar nie ‘n tekort nie. So onthou ek een insident waar ons saam in ‘n houespel kompetisie gespeel het. Ons teenstanders was die bestaande klubkampioene en die verwagting was dat dit ‘n eensydige stryd sou wees. Op die twaalfde putjie was sake nog redelik gelyk, maar met die afslaan op die dertiende het dinge slegter begin lyk vir my en Johann. My bofhou was maar flou en Johann se bal het ver regs van die skoonveld in die diep bosse geëindig. In teenstelling daarmee het ons opposisie stewige dryfhoue gespeel en mooi op die groen gras gelê.

Terwyl ek nader aan my bal stap, sien ek hoe Johann met ‘n dapper swaai deur die dik gras poog om ‘n naderhou te speel. Die bal trek so 20 of wat meter verder en eindig in ‘n volgende bos. Ek neem toe maar aan dat Johann uit is en begin aanspeel, met die hoop dat ek darem met ‘n een of twee oor syfer kan klaarmaak en dalk die putjie kan deel. Die volgende oomblik hoor ek hoe klap die yster en Johann se bal trek swierlik oor ons koppe, net om bo-op die bult die boomtakke te tref en uit te skiet in die rigting van die putjie. Sy bal rol deur die sandgat, tref die vlaggie en eindig in die gat. Dit was net hier waar ons teenstanders se “wiele” afgekom het.

Tot ‘n mate was dit hoe Johann Koerant was – hy het geglo in homself en was bereid om die kanse te waag.

In 1990 het hy nog ‘n dapper waagstuk probeer. Hy het ‘n koerant begin wat gerig was op die oorwegend swart gemeenskap in die streek. In daardie stadium was daar min koerante in die land wat primêr op swart gemeenskappe ingestel was. Daar is geglo dat dit nie ekonomies haalbaar was nie, maar Johann het gemeen dit kan werk en die Venda Mirror het in September 1990 die eerste keer die lig gesien. Vandag is die Mirror steeds die gemeenskapskoerant met die beste verkoopsyfers in die provinsie.

Johann was altyd aktief betrokke by die gemeenskap waarin hy geleef het. Hy was ‘n lid van die Rotariër beweging en het in 2003/4 diens gedoen as president van die plaaslike tak.

Daar was egter ook die donker tye. In die laat 1990s het Johann begin sukkel met sy gesondheid en hy is gediagnoseer met blaaskanker. Sy blaas is verwyder en hy het vir etlike maande geveg om te herstel. Dit was egter weereens ‘n geveg wat Johann met baie toewyding aangedurf het en dit was nie lank voor hy weer sy pos in die redakteurstoel ingeneem het nie.

Die lang siekbed het egter bygedra tot sy besluit om die stresvolle uitgewersbedryf te verlaat. Hy het in 2000 albei die koerante verkoop en vir homself ‘n studio gebou vanwaar hy sy fotografie en videoproduksies kon bedryf. Dit het hy gedoen tot in 2005 toe hy en Melinda na Kleinmond verhuis het waar hulle ‘n huis gekoop het.

Johann en Melinda het egter nie bande met die Soutpansberg gebreek nie en gereeld gebel om te hoor hoe dit gaan. Hulle baie vriende het ook gereeld gaan kuier. In 2015 was hulle die eregaste toe die Zoutpansberger se 30ste en Mirror se 25ste verjaardag gevier is.

Johann is vroeg Woensdagoggend, 6 April, oorlede in sy huis in Kleinmond. Volgens Melinda het hy die afgelope tyd weer gesukkel met sy gesondheid, maar was optimisties dat dit beter sou gaan.

‘n Roudiens is Dinsdag gehou in Kleinmond. Dit is bygewoon deur vriende en familie, wat sy twee dogters, Tania en Jeánnine, ingesluit het. Hy word ook oorleef deur ‘n skoonseun en twee kleinkinders.

 
 
 

Viewed: 1105

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Johann en sy vrou, Melinda, afgeneem tydens sy tydperk as president van die plaaslike Rotariërklub.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT