ADVERTISEMENT:

 

 
 

SAPD

Man in arres oor vlaag van misdaad

Date: 26 February 2016 By: Isabel Venter

Met Louis Trichardt wat tot redelik onlangs vasgevang was in ‘n greep van ernstige geweldsmisdaad, het die Makhado SAPD hierdie week ‘n bietjie goeie nuus gehad.

Hulle het verlede week ‘n verdagte in hegtenis geneem wat hulle vermoed verantwoordelik kan wees vir heelparty van die streek se gevalle van moord en rooftogte. Provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto het Dinsdag bevestig dat die verdagte steeds in aanhouding is vir ondervraging om te bepaal met watter sake hy verbind kan word. Daar word gehoop dat hy inligting sal hê wat kan lei tot verdere arrestasies.

Teen druktyd was die man nog nie formeel aangekla nie, maar sou na alle waarskynlik voor die einde van die week voor die hof gebring word.

Ernstige geweldsmisdaad in die Louis Trichardt-omgewing het sedert September verlede jaar dramaties toegeneem. Oor die naweek van 12 September is twee inwoners, mnr. Jonas Sirovheli (24) en me. Maggie Castleman (48), in twee afsonderlike voorvalle vermoor. Die naweek van 24 en 25 September is mnr. Johan Oelofse doodgeskiet tydens ‘n vuurgeveg met ‘n groep onbekende aanvallers by sy vriendin se plaaswoning. Dieselfde naweek is gekenmerk deur ‘n skrikbewind van terreur, met talle inbrake en ander aanvalle. Kort op die hakke hiervan het ‘n string gewapende rooftogte gevolg en het daar tussen 9 September en 16 November meer as 13 gewapende rooftogte in die dorp en omgewing plaasgevind.

Op 29 Desember is die sakeman, mnr. Japie van Heerden, voor sy winkel aangeval deur ‘n groep mans, gesteek met ‘n mes en het hy amper doodgebloei.

In die nuwe jaar het die vlaag misdaad hervat. ‘n Oud-inwoner van Louis Trichardt, mnr. André van der Walt, is op 9 Januarie deur twee ongemaskerde mans voorgekeer terwyl hy probeer geld trek het by die FNB OTM in die Checkers-kompleks op die hoek van Munnik- en Songozwistraat. Hy is erg aangerand in die voorval.

Drie dae later is mnr. Thabelo Tharini deur twee onbekende mans aangeval naby die hoek van Grobler- en Pretoriusstraat, en met ‘n ligte kaliber vuurwapen in die bors geskiet.

Die Makhado Polisie het opnuut die gemeenskap daaraan herinner om vermeende misdadigers te help vastrek. Enige inligting kan deurgegee word na die aanklagkantoor by tel. 015 519 4300 of die bevelvoerder van sigbare polisiëring, lt-kol. Rambau, by 082 573 3289.

 
 
 

Viewed: 864

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT