ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Frans van der Merwe soos hy gereeld in die strate gesien word - besig om onwettige aborsie plakkate te verwyder.

As elkeen net voor hul eie plek skoonmaak help dit klaar baie

Date: 26 February 2016 By: Isabel Venter

In Louis Trichardt is daar bykans nie meer ‘n beskikbare oppervlak wat nie gepleister is met die onwettige plakkate wat “veilige, pynvrye” en “dieselfde-dag” aborsies adverteer nie. Sigbare wetstoepassing om hierdie probleem aan bande te lê, is steeds uiters gebrekkig.

‘n Bejaarde inwoner van die dorp, mnr. Frans van der Merwe, het dit sy lewenstaak gemaak om hierdie plakkate te verwyder waar hy hulle teëkom. Hy word gereeld opgemerk waar hy lamppale en verkeerstekens skoonkrap.

Oom Frans het onlangs ‘n paar dae afgestaan om Fort Hendrina, wat langs die munisipale biblioteek in Erasmusstraat staan, skoon te maak. Sy grootste dryfkrag was ‘n stukkie geskiedenis wat hy raakgelees het in die Streets of Our Names-rubriek wat tweeweekliks in die Zoutpansberger verskyn.

“Ek het nie besef die vrou na wie die fort vernoem is, was so ‘n formidabele mens gewees nie,” het oom Frans gesê. “Sy was ‘n merkwaardige stukkie mens, en dit grief my dat hierdie bullebakke met hulle plakkate, wat vrouens se lewens verwoes, as't ware ‘n ander vrou se nalatenskap vervuil.”

Fort Hendrina is na die buitengewone vrou van die boere-generaal Piet Joubert, Hendrina Johanna Susanna Botha, vernoem. Sy is beskryf as “geheel en al glad nie bang (nie), vindingryk en taai” en het haar man vergesel op sy veldtogte en geadviseer met militêre raad.  

Buiten om tannie Hendrina se naam in ere te herstel, gaan oom Frans se opruiming nie net bloot daaroor om die plakkate te verwyder omdat dit steurend, vuil en onooglik is nie. Nee, dit gaan oor veel meer as dit. Dit is ‘n pro-aktiewe lewensreddingspoging.  

Onwettige aborsie advertensies stel menselewens in gevaar. Dit kan nie net ‘n vrou se lewe eis nie, maar beëindig ook ‘n ongebore kind se lewe.

Volgens oom Frans is die opsit van plakkate ‘n aanloklike bron van inkomste vir plaaslike werklose mense. “Hulle beplak die hele dorp vol met die plakkate bloot om ‘n ekstra geldjie te verdien en gee nie verder om wat dan gebeur nie,” het hy verduidelik.

Oom Frans het al in die verlede jong mans op heterdaad betrap, besig om die plakkate op te sit. Die probleem ontstaan egter daarin dat agterstraat aborsie “klinieke” in ‘n grys area van die wet val. In gevalle waar die polisie se wetstoepassing daarvan bevraagteken word, is daar gesê dat die opsit van hierdie tipe plakkate eerder ‘n saak van misleidende advertensies is. Die SAPD kan slegs ‘n arrestasie maak nadat iemand probeer het om ‘n onwettige aborsie uit te voer.

‘n Klag van saakbeskadiging is ‘n ander alternatiewe saak wat geopen kan word, maar slegs deur die munisipaliteit aan wie die lamppaal of verkeersteken behoort.  Die munisipaliteit kan ook ‘n boete uitreik as hulle amptenare iemand op heterdaad betrap terwyl hulle besig is om die plakkate op te sit.

Ongelukkig, verduidelik oom Frans, word die plakkate vroegoggend en laat in die aande opgesit, juis om vervolging vry te spring. Daarom haal hy soveel van die plakkate af as wat hy kan inpas op ‘n dag. Die gom wat gebruik word, is egter partykeer rateltaai. “As ons die plakkate onmiddellik afhaal, sal die onwettige aborteurs vinnig besef hulle veg 'n verlore stryd. As 'n paar honderd mense by ons aansluit en net die stukkie voor hulle eie perseel skoonmaak, sal die situasie dramaties verander,” het oom Frans gesê.

 
 
 

Viewed: 1060

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Fort Hendrina soos dit nou daarna uitsien, nadat oom Frans besluit het om al die plakkate te verwyder. Die plakkate se gom is taai, en dit het oom Frans 'n paar dae lank besig gehou om die plakkate almal te verwyder.

Fort Hendrina, langs die munisipale biblioteek, soos dit vir jare daar uitgesien het: beplak met onooglike plakkate wat onwettige aborsie "klinieke" adverteer.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT