ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vierwiel-padvarke gaan vasgevat word

Date: 02 September 2005 By: Andries van Zyl

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Sien dit as ‘n finale, vriendelike waarskuwing,” was mnr. Martin Luus van die munisipale verkeersafdeling se woorde ten opsigte wat bestuurders van vierwielmotorfietse wat verkeerswette oortree.

Luus het gesê dat bestuurders van vierwielmotorfietse waarvan die enjinkapasiteit 125cc oorskry in besit moet wees van ‘n A-lisensie. ‘n A1-bestuurderslisensie is ook nodig vir bestuurders van die gewilde nuwe “Zippy Nippy” ingevolge die Nasionale Padverkeerswet. Sou die bestuurder van enige van die twee fietse ‘n openbare pad gebruik, moet die fietse na ‘n toetssentrum geneem word sodat daar ‘n padwaardigheidsertifikaat uitgereik kan word. Die fietse moet ook geregistreer word. Bestuurders moet ook ten alle tye gehoor gee aan alle verkeersreëls, asook die dra van ‘n valhelm. In sekere gevalle verbied die motorfiets se spesifikasie die vervoer van ‘n passasier.

“Mense wat nie aan die verkeersreëls gehoor gee nie, gaan aangekla word van roekelose/nalatige bestuur. Die motorfietse kan ook geskut word. Die huidige tendens is dat ‘n groot hoeveelheid eienaars van vierwielmotorfietse oor naweke inwoners terroriseer. Hulle maak amok deur teen hoë spoed, sonder valhelms in baie gevalle, deur residensiële areas en oor sypaadjies te jaag,” sê Luus.

Luus sê dit is nie nodig om ‘n vierwielmotorfiets te registreer indien dit nie op ‘n openbare pad gebruik word nie, soos byvoorbeeld op plase. Hy sê daar ontstaan egter ‘n probleem wanneer die aankoop van só ‘n fiets deur ‘n bank gefinansier word. Die bank vereis dat die fiets geregistreer word alvorens ‘n lening toegestaan kan word en telkens versuim die agent om vir die koper hiervan in te lig. Na ‘n jaar, wanneer die koper sy ander voertuie se lisensieskyfies wil hernu, word hy egter meegedeel dat daar agterstallige lisensiegeld op die vierwielmotorfiets is wat eers betaal moet word, alvorens ander voertuie se lisensies hernu kan word. Die koper, wat nie die fiets op ‘n openbare pad gebruik nie, kan dan nie verstaan waarom hy moet lisensiegeld betaal nie aangesien dit nie nodig was vir hom om die fiets te registreer nie.

“Wat eienaars van dié fietse kan doen is om aansoek te doen dat die fiets geskrap word sodra dit klaar betaal is,” sê Luus. Dit sal die eienaar kwytskeld van enige verdere verpligtinge ten opsigte van lisensiegelde. Luus het egter weer beaam dat dit nie gedoen kan word nie as die fiets op ‘n openbare pad gebruik word. In só ‘n geval moet lisensiegeld elke jaar betaal word, al is die fiets klaar betaal.

 
 
 

Viewed: 1176

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT