ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die span van Limpopo Melkery wat baie goed gevaar het tydens die jaarlikse landswye kuilvoerkompetisie deur in twee afdelings onder die top 10 te eindig is voor, van links na regs, Amos Ndou, Boy Munyai en Sadiki Thangavhuelelo. Agter is Willie du Preez, Harry Gapara en Petrus Sima. Foto verskaf.

Willie onder top tien in land wat beesvoer betref

Date: 28 January 2016 By: Nic Hoffmann

Willie du Preez, plaasbestuurder van Limpopo Melkery, het ‘n besondere prestasie behaal deur baie goed te vaar in die jaarlikse landswye kuilvoerkompetisie van die Veeplaas-tydskrif deur in twee kategorieë onder die top 10 te eindig.

Dié kompetisie word geborg deur Santam se agri-afdeling, in samewerking met die tydskrif, en deelnemers ding mee in verskillende kategorieë, naamlik mielies, hawer en sorghum.

Willie het sewende gekom in die afdeling vir mielies en tweede in die afdeling vir hawer, waar hy slegs een punt minder as die wenner gekry het. Hy was ook die enigste boer wat in meer as een kategorie deelgeneem het vir 2015.

Ongeveer 300 boere vanoor die hele land het verlede Woensdag, 20 Januarie, by die Avianto Landgoed in Gauteng saamgetrek vir die aankondiging van die wenners van die kompetisie, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied is. Verlede jaar was Willie vyfde in die kategorie vir mielies en het nie toe deelgeneem in die kategorie vir hawer nie.

Die boere se kuilvoer word beoordeel volgens voggehalte, snitlengtes, voedingswaarde, kompaksie en mikrobestabiliteit. Al hierdie faktore speel ‘n rol in terme van die graan se reaksie met inokkulante (‘n tipe preserveermiddel wat vinnig die produk se pH afbring, mikrobes in stand hou en so bruikbaarheid verleng ná kontak met suurstof).

Kuilvoer maak ‘n baie belangrike deel uit van die beeste se ru-voer, en Willie en sy span werkers is trots op die feit dat hulle jaarliks sowat 6 500 ton mielies, 2 500 ton sorghum en 1 800 ton hawer oes om Limpopo Melkery se koeie in top kondisie te hou. Hy het sy span werkers bedank vir hulle toewyding en sy toekennings aan genade van Bo en hulle harde werk toegeskryf, veral gesien in die lig daarvan dat hierdie streek nie regtig mielie- of hawerwêreld is nie.

 
 
 

Viewed: 337

 

 
 

Nic Hoffmann

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT