ADVERTISEMENT:

 

 
 

Moontlikheid van spook dalk nie so vergesog nie

Date: 25 January 2016 By: Isabel Venter

‘n “Dwalende besoeker” aan Louis Trichardt het gemengde reaksie ontlok by lesers. Die Zoutpansberger het verlede week berig oor ‘n sakeman van die dorp wat glo dit spook by sy sakeperseel. Volgens die man, wat steeds anoniem wil bly, het hy agtergekom daar skort iets by sy perseel teen die einde van September verlede jaar.

Hy het inwoners genooi om met ‘n alternatiewe verduideliking vorendag te kom vir wat hy gesien en afgeneem het met sy sekuriteitskameras. In een video is daar ‘n onverklaarbare lig wat vanuit die niet voor die kamera se gesigsveld in sy stoor verbyskuif. Die man het gesê dit was pikdonker in die stoor en dat daar geen ander buiteligte was wat ‘n versteuring kon veroorsaak op die video nie.

Kort nadat die koerant op straat verskyn het verlede Donderdag, het lesers laat weet dat die man se verduideliking nie so bisar is as wat dit dalk klink nie. Van al die oproepe wat die koerant ontvang het namens die sakeman, het net een persoon gesuggereer dat alkohol dalk ‘n rol mag gespeel het.

Ander lesers het gevra dat hulle graag in kontak wil kom met die sakeman om hulle eie stories en ervarings van die bonatuurlike met hom te deel.

Een leser het selfs aanbeveel dat die sakeman ‘n tradisionele geneesheer gaan sien om sy sakeperseel te "reinig". “Dit is ‘n dooie se gees wat nie rus nie, en die enigste persoon wat kan help is ‘n sangoma,” het die betrokke leser die koerant in ‘n e-pos laat weet.

Ander lesers het weer hulle eie spookstories oorvertel. Elke spook, of besoeker dan, lyk blykbaar nie dieselfde nie.

Party lesers het ‘n ontslape geliefde gesien, ander weer het net ‘n gevoel gehad dat hulle nie alleen in ‘n vertrek is nie, terwyl ‘n ander leser die spook eerder op die bed voel sit het as om fisies die spook te sien.

Hoe dit ook al sy, die algemene konsensus was dat daar so iets soos bonatuurlike wesens is, of mens nou daarin glo of nie.

Intussen het die sakeman hierdie week bevestig dat sy besoeker laag gelê het terwyl hy by die huis was. Hy was ongelukkig sedert Donderdag in Johannesburg gewees vir besigheid, en kon toe nie self video’s maak nie. Die koerant se span het aangebied om self een aand hulle kamera op te stel en te sien wat gebeur. Ongelukkig kon dit nie voor druktyd gebeur nie, weens ander sakebelange waartoe die man homself toe reeds verbind het. Die koerant se span “ghost hunters” het egter onderneem om Woensdagaand die spook te gaan soek. Lesers kan volgende week se uitgawe dophou om uit te vind wat gebeur het...

 

 
 
 

Viewed: 684

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT