ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Tweede verdagte vas in Oelofse-moord

Date: 23 January 2016 By: Isabel Venter

‘n Tweede verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op 'n Louis Trichardt inwoner, mnr. Johan Oelofse (42).

Die Makhado Polisie het in ‘n intelligensie-gedrewe ondersoek dié verdagte, Maxwell Sithole (29), aangekeer in Musina verlede Dinsdag.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto is Sithole aanvanklik in hegtenis geneem omdat hy in besit was van agt gesteelde selfone en twee rekenaartablette. Sy het verder bevestig dat hy moontlik gekoppel kan word aan verskeie ander geweldsmisdade in en om Louis Trichardt.

Die Zoutpansberger het verder uit 'n betroubare oord verneem dat Sithole dalk ook verbind kan word met meer as een skietvoorval en gewapende roof in Louis Trichardt. Hy het ook glo ‘n skrikbewind gevoer in Tshikota, Thohoyandou en Waterval.

Sithole het verlede Vrydag vlugtig hier in die plaaslike landdroshof verskyn. Hy is nie gevra om te pleit of ‘n borgaansoek te bring nie. Hy sal na verwagting hierdie Vrydag weer verskyn, saam met ‘n tweede beskuldigde in die Oelofse moord.

Die eerste verdagte is nog nie gevra om te pleit nie, omdat hy eers moes aansterk in die hospitaal. Hy is kort na die aanval op Oelofse, in Oktober verlede jaar, in hegtenis geneem. Die man is deur die polisie gewond nadat hy arrestasie probeer ontduik het.

Intussen het Otto ook bevestig dat die plaaslike polisie beslag gelê het op ‘n pistool wat hulle vermoed een van dié was wat gebruik is tydens die skietvoorval op Oelofse. Dié pistool is kort na Sithole se inhegtenisname gekry in ‘n puttoilet. Die reeksnommer was afgevyl.  

Sithole sal in aanhouding bly tot en met sy volgende hofverskyning.

 
 
 

Viewed: 426

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT