ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Dwerg krimpvarkie van Ciprus. Uitheemse krimpvarkies, wat wettig as troeteldiere in Suidelike Afrika aangehou mag word, is kenmerkkend wit van kleur met 'n langer gesiggie wat ook dikwels lig van kleur is. Foto: Wikipedia.

Nie alle krimpvarkies kan ‘n troeteldier wees nie

Date: 22 January 2016 By: Isabel Venter

Marmotte en wit muise is uit. Krimpvarkies is nou in die mode. Deesdae word daar al hoe meer met krimpvarkies geteel in Louis Trichardt en verkoop as troeteldiere. Die krimpvarkies word in hul hokke groot en is glo doodgemaklik en onversteurbaar as hulle eers aan die hokke gewoond geraak het. Boonop is hierdie skattige diertjies so oulik dat hulle tot die gehardste hart kan laat smelt.

Maar is dit wettig of oulik om krimpvarkies aan te hou as troeteldiere, veral gesien in die lig daarvan dat nie alle tipes krimpvarkies aangehou mag word nie?

Volgens die Nasionale Raad vir die Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is dit heeltemal onwettig om inheemse krimpvarkspesies aan te hou, daarmee te teel of met hulle handel te dryf.  Die NDBV se Isabel Wentzel, wat werk met die bewaring van wildlewe, het verlede Vrydag bevestig dat die Atelerix frontalis, oftewel die Suid-Afrikaanse krimpvarkie, ‘n beskermde spesie is wat glad nie as ‘n troeteldier aangehou mag word nie.

Wentzel het gesê die inheemse krimpvarkie word herken aan sy kenmerkende swart gesiggie. Die krimpvarkie se penne is ook donkerder van kleur en is effens groter as die “mak” krimpvarkies.

Dit is wel wettig om die Atelerix albiventris (dwerg krimpvarkie) as ‘n troeteldier aan te hou en geen permitte is nodig nie. Wentzel het gesê hierdie krimpvarkies is gewoonlik gespikkeld of wit (albino) van kleur en het korter gesiggies en lywe as hulle Suid-Afrikaanse familie. Die dwergies word gewoonlik ingevoer van Europa of midde-Afrika, wat wel ‘n permit verg.

Plaaslik word die dwerg krimpvarkies vir tussen R1 000 tot R1 500 verkoop, maar maak krimpvarkies werklik sulke goeie troeteldiere?

Volgens plaaslike telers verg krimpvarkies nie baie aandag nie. Hulle vreet graag insekte, maar kom ook goed klaar met geblikte katkos. Krimpvarkies stink glo ook nie soos honde of katte nie, en baie min mense is allergies vir hulle.  

Wentzel glo egter dat krimpvarkies glad nie geskikte troeteldiere is nie. Sy sê daar is geen verskoning vir mense wat diere uit hul natuurlike omgewing neem om hul hele lewens in hokke te spandeer nie. “Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ‘n krimpvarkie ‘n wilde dier is,” het sy gesê.

Wentzel het verduidelik dat krimpvarkies nagdiere is, en dat mense hulle natuurlike ritmes versteur deur met hulle in die dag te speel. “Plus, hulle kan geniepsig raak en jou vingers stukkend byt,” het Wentzel gesê. Haar voorstel, as ‘n bewaringsbewuste, is om krimpvarkies in hul natuurlike habitat te leer ken en te geniet, eerder as om hulle gevange te hou in ‘n hok.

 
 
 

Viewed: 5891

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Voorbeeld van 'n inheemse krimpvarkie, oftewel die Atelerix frontalis, is 'n beskermde spesie en mag nie as 'n troeteldier aangehou word nie. Hulle is gewoonlik groter en het 'n donker gesiggie en lyf. Foto: Wikipedia. 

'n Dwerg krimpvarkie van Ciprus. Uitheemse krimpvarkies, wat wettig as troeteldiere in Suidelike Afrika aangehou mag word, is kenmerkkend wit van kleur met 'n langer gesiggie wat ook dikwels lig van kleur is. Foto: Wikipedia.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT