ADVERTISEMENT:

 

 
 

Op hierdie foto is die vreemde lig vasgevang wat gereeld die alarms laat afgaan. Volgens die sakeman is hierdie lig vreemd, want daar is geen buiteligte wat die weerkaatsing kan maak nie. Foto verskaf.

Sakeman oortuig dit is ‘n spook wat hom so pla

Date: 16 January 2016 By: Isabel Venter

Is daar so iets soos spoke? ‘n Sakeman van Louis Trichardt het hierdie week aan die Zoutpansberger gesê hy het nooit vantevore geglo in “sulke goed nie.” Onlangse gebeure by sy besigheidsperseel het hom egter laat herbesin. Hy glo nou dat daar so iets soos spoke is.

Bo-natuurlike wesens, sê die man, is eintlik ‘n beter beskrywing. Hy het ook foto’s geneem van die “dwalende besoeker” by meer as een geleentheid. Die man wil egter anoniem bly uit vrees dat die “spoke” van sy kliënte gaan afskrik.

Volgens die man het hy om en by die einde van September verlede jaar agtergekom daar skort iets by sy sakeperseel. Een van sy alarmstelsel se ogies het pal bly afgaan, sonder dat hy of sy personeel kon agterkom wat die rede is daarvoor. Dit is toe dat die sakeman besluit het om sy sekuriteitsvideo na te gaan.

Wat hy gesien het, kon hy nie ‘n logiese verduideliking voor kry nie. “As daar iemand is wat met ‘n verduideliking vorendag kan kom, sal ek dit graag wil hoor,” het die man gesê.

In die video is daar ‘n onverklaarbare lig wat vanuit die niet voor die kamera se gesigsveld in sy stoor verby skuif. “Dit is pikdonker in die stoor - daar is nie buiteligte of so nie,” het die man verduidelik.

By nadere ondersoek het die man agtergekom dat dieselfde ligvorm ook gesien kan word aan die voorkant van sy perseel. 

Die sakeman het besluit om self verdere ondersoek in te stel, veral nadat snaakse dinge in sy woonhuis, aangrensend tot sy besigheidsperseel, ook begin gebeur het.

Die man sê hy sal byvoorbeeld in die middel van die nag wakker word van die sleutels wat in sy kamerdeur op hulle eie heen en weer wieg-wieg in die slot - net om met ‘n skok agter te kom dat die deur nie meer gesluit is, nadat hy dit elke aand persoonlik self gesluit het.

Een aand, sê die man, het hy ook onverklaarbare geluide gehoor in die huis. Dit het geklink soos ‘n teelepel wat van die kombuis se wasbak afval. “Maar as ek gaan kyk, is daar niks,” sê die man.

Met sy ondersoek het die man egter nie verwag om eerstehands kennis te maak met iemand wat nie van vlees en bloed is nie. Die vermoede was altyd daar dat dit insekte of rotte kon wees. “As ek dit so vir jou kan verduidelik - dit lyk soos ‘n wolk vol papiervlokkies wat geleidelik meer en meer word. Dan begin dit so skyn en neem die vorm van ‘n persoon aan. Maar mens kan nie dinge uitmaak soos ‘n neus, ore of oë nie,” verduidelik die man. Die vlokkies wat in die wolk blink, sal dan ewe skielik net in die niet verdwyn.

Die man het ook, per geleentheid en in Engels, nader kennis probeer maak met die ligwese en gevra wie hy is en waar hy vandaan kom. “Ek het dit [die gesprek] opgeneem op ‘n lae-frekwensie opnemer en dan kan mens hoor hoe antwoord hy terug,” sê die man.

Nog iemand wat die vreemde ligte en die vlokkies op die kamera gesien het, was die man se seun. “Ons het al ná die tyd gaan kyk by die kamera, maar daar is nie motte of goggatjies wat daar lê nie ... mens sal dit mos tog sien,” sê die seun.

Ongelukkig het die man die foto's wat hy geneem het van die vlokkies met sy slimfoon, verloor. ‘n Teorie is dat die ligwese dalk ‘n ontslape siel is wat nie tot rus kan kom nie.

“Hoe anders verklaar mens die lig op die kameras? Daar is nie ligte in die stoor of in die straat wat sulke ronde weerkaatsings kan maak nie,” het die man gesê.

Lesers is welkom om die koerant te laat weet wat hulle dink van die ligverskynsels.

‘n E-pos kan gestuur word na Isabel Venter by [email protected]. Sy kan ook gedurende kantoorure geskakel word by 073 349 1587.

 
 
 

Viewed: 1887

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT