ADVERTISEMENT:

 

 
 

Renier Scheepers van Hoërskool Louis Trichardt is ná afloop van die 2015 matriekeindeksamen aangewys as die beste meganiese tegnologie leerling in die Limpopo Provinsie. 

Hoërskool Louis Trichardt se matrieks sorg vir 192 onderskeidings in 2015

Date: 14 January 2016 By: Isabel Venter

Leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt kan hulle koppe hoog hou ná afloop van verlede jaar se matriekeksamen. Die skool se matriekklas van 2015 het hierdie jaar nog ‘n stappie nader gekom aan hulle mikpunt van ‘n 100% slaagsyfer. Boonop het verlede jaar se klas twee leerlinge opgelewer wat elkeen matriek geslaag het met agt onderskeidings.

Hoërskool Louis Trichardt is ook aangewys as die 15de beste voormalige Model C-skool in die provinsie. Die skool het nou wel drie plekke geval van hul 12de plek die vorige jaar, maar dit het nie die skool se geesdrif gedemp nie. Veral gesien in die lig daarvan dat Limpopo se matriekslaagsyfer een van die swakste in die land is (daal met 7% na 65,9%), is Triegies se prestasie juis te meer uitnemend.

Volgens die Departement van Basiese Onderwys is Triegies kort op die hakke van ander topskole in die provinsie gewees. Hoërskool Pietersburg het sewende in die provinsie geëindig, met Hoërskool Ben Vorster 11de en Hoërskool Merensky 14de. Die topskool in die provinsie was Thengwe Hoërskool.

Vir 2015 het net vyf van Triegies se 165 matrieks gedruip, wat ‘n 97% slaagsyfer opgelewer het. “Ek is meer as net trots op ons matrieks se uitslae,” het skoolhoof  mnr. Louis Cilliers Dinsdag gesê.  “Ons uitslae het my opgewonde gemaak, en ek weet hierdie jaar gaan ons nog beter doen.”

Verder spog die skool met ‘n totaal van 192 A-simbole en 217 B-simbole. Daar het ook 105 matrieks geslaag met universiteitsvrystelling.

Die skool se twee toppresteerders vir 2015 is Emmanuel Motloung, wat agt onderskeidings behaal het, nl. in Afrikaans eerste addisionele taal, Engels huistaal (83%), wiskunde, lewensoriëntering, besigheidstudies, ekonomie, rekeningkunde en inligtingstegnologie. Hy beplan om hierdie jaar sy liefde vir rekeningkunde uit te leef en is reeds aanvaar by die Universiteit van Pretoria om sy graad daar te voltooi.

Maanda Phathela het ook agt onderskeidings behaal, nl. in Afrikaans eerste addisionele taal, Engels huistaal, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde en besigheidstudies.  Hy wil graag ‘n dokter word en gaan hierdie jaar medies begin swot by die Universiteit van Pretoria.  

Daniël Minnie, die 2014/15 onderhoofseun, het sewe onderskeidings behaal, en gaan siviele ingenieurswese swot by Tukkies. Sy onderskeidings behaal hy in Afrikaans eerste taal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, besigheidsstudies, ingenieursontwerp en geografie.  Hy hoop om binnekort ook met nog ‘n A-simbool te spog, sodra hy sy fisiese wetenskapvraestel, waarvoor hy 79% kry, laat hermerk het.

Loyd Mufamadi was die enigste leerling wat ses onderskeidings behaal het, en dit in Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe en rekeningkunde.

Gysbert Guillaume, Vhuthu-Hawe Molokana, Eliam van de Vyver en Edsanie Muswede behaal almal elkeen vyf onderskeidings. Die leerlinge wat almal vier onderskeidings behaal het, is Ruaan Botha, Marietjie Leonard, Carol Nelson, Renier Scheepers, Lana Steyn, Phindulo Mamafha, Mashudu Molefe en Nkhensani Shimange. Renier is ook aangewys as die beste meganiese tegnologie leerling in die Limpopo Provinsie.

Monique Eksteen, Amari Kotze, Coreen Meiring, Zonia Osborn, Ruben van der Nest, Linda Rambuda en Mukonazwhoth Tshivhandekano het almal drie onderskeidings behaal. Nog 21 leerlinge het elkeen twee onderskeidings behaal. 

Intussen het Hoërskool Louis Trichardt se personeel nie op hulle louere gerus nie en was hulle dié week hard aan die werk om reg te maak vir die 2016 skooljaar. “Al die personeel en onderwysers is positief ingestel om ‘n lewenslange verskil te maak in die onderrig en opvoeding van al ons leerlinge,” het Cilliers gesê.

Cilliers het ook ‘n bietjie meer vertel van die nuwe waardesisteem opvoedingsmodel wat die skool hierdie jaar gaan volg. Die stelsel is gebaseer op liefde, vertroue, eienaarskap, respek, takt, behoort en geloof. ‘n Leerling met waardes, sê Cilliers, sal nie net verandering sien in sy eie lewe nie, maar ook ‘n grootmens word wat ‘n verskil sal kan maak in sy dorp en later in sy beroepslewe. “Die kind, onderwyser en ouer is die drie pilare wat ons gaan gebruik om hierdie waardesisteem mee te bou en sodoende sukses te behaal met ons opvoeding,” het Cilliers gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1182

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT