ADVERTISEMENT:

 

 
 

Japie van Heerden weer saam met sy gesin, nadat hy Dinsdag teruggekeer het na die winkel. Voor op sy skoot is die tweejarige Francois (links) en nege-maande-oue Jonathan. Links van Japie is sy oudste dogter Leeanne (8), met Catherine (6) wat haar pa styf om die nek vashou langs ma Hellen.

Sakeman bloei byna dood

Date: 11 January 2016 By: Isabel Venter

Terwyl hy ernstig gewond is en besig is om dood te bloei, het ‘n sakeman van Louis Trichardt by God gepleit om nie dood te gaan nie, sodat hy sy vrou en kinders weer kan sien en vashou.

Japie van Heerden van Super Electronics in Louis Trichardt het bietjie meer as ‘n week gelede ‘n noue ontkoming gehad, nadat hy ‘n gewapende rooftog oorleef het reg voor sy sakeperseel in Songozwistraat.

Presies ‘n week na die sinnelose aanval op 29 Desember, is Japie weer op die been en druk besig om klante te help by sy winkel. Hy skerts selfs ‘n bietjie, terwyl hy vertel van sy nagmerrie-ervaring. Later, op ‘n meer ernstige noot, vertel Japie dat al wat om gered het, die genade van sy Hemelse Vader was. “Alle eer kom Hom toe,” sê Japie.

Hy het Dinsdag, 29 Desember, omstreeks 18:30 voor sy winkel parkeer, nadat hy voorraad aangekoop het in Polokwane. Japie het sy bussie parallel parkeer met die straat om te wag vir ‘n kliënt wat ‘n bestelling sou kom afhaal het.

Die volgende oomblik het vyf rowers, met balaklawas aan, die deur oopgeruk en ‘n mes teen Japie se keel gedruk. Japie is hardhandig uit die bussie gepluk en was heel verontwaardig toe die rowers in Engels hom beveel om sy broek en onderklere uit te trek. “Jy’s seker laf het ek vir die ou gesê,” het Japie vertel.

Ongelukkig was die rowers ernstig oor hul opdrag en het gedreig om Japie dood te maak as hy nie gehoor gee nie. Hy het die lyn getrek by sy onderbroek, maar die rowers het hom weer gedreig.

“Daar staan ek toe kaal … as hier ‘n paar tannies verbygery het, het hulle dalk die show van hulle lewe gekry,” skerts Japie.

Dit was egter vir Japie ‘n groot vernedering gewees om so kwesbaar te wees.

Terwyl Japie, met ‘n rower aan elke sy, gestaan het, het van die ander rowers die bussie se sydeur oopgemaak. Die rowers aan Japie se sy se aandag was hierdeur afgetrek en Japie het ‘n geleentheid gesien. “Ek het my arm geswaai en die een aan my regterkant vol in die gesig geslaan ... ek het my alles gegee ... ek het rêrig gedink ek gaan hom kan uitslaan,” vertel Japie.

Die rower het ‘n paar treë teruggesteier, maar Japie weer aan sy arm beetgekry. Die tweede rower het Japie in die bors gesteek met sy mes, terwyl Japie nog probeer het om sy arm los te ruk. Hy het eers nie besef hy is gesteek nie en het gedink die rower het hom geslaan. Ná die messteek het die  rowers iets geskree vir mekaar, in ‘n taal wat Japie nie verstaan nie, en toe gevlug met sy klere.

Nog half verdwaas het Japie so gevat-vat aan die seerplek op sy bors en besef dat daar bloed op sy hande is. “Toe ek afkyk na my hemp was dit net bloed,” sê Japie.

“Ek het, toe ek die bloed só sien loop, geweet dit is die einde van my lewe. Ek moet by die hospitaal kom, hulle moet so gou as moontlik aan my begin werk, want as hulle my hart of iets geraak het is ek in die moeilikheid.”

Hy het self privaathospitaal toe gejaag. Op pad het hy hard begin bid.

“Ek bid al die pad – Here, asseblief, ek wil net my vier kinders weer sien, ek wil hulle grootmaak ... ek is te jonk om dood te gaan ... ek wil hulle sien skool gaan ... en toe sien ek net dit is flippen bloed orals,” vertel Japie.  

Intussen het hy ook sy vrou, Hellen, probeer bel om hom by die hospitaal te kry. Al wat sy kon uitmaak, vertel Hellen, was dat Japie gesê het hoe lief hy vir haar en hulle vier jong kindertjies is voor die oproep uitgesny het. Sy was heel verward, maar het tog die kinders bymekaargekry om na die winkel te ry en te kyk waar is Japie.

Japie het dit net-net gemaak tot by die hospitaal. Hy onthou lukrake grepe van die rit tot by die hospitaal. “Daar by Standard Bank het ek begin voel dinge raak nou nie meer so lekker nie, en toe ek weer sien parkeer ek die bus reg vóór die hospitaal.”

Japie het net tot in die ingangsportaal van die hospitaal gevorder waar hy inmekaar gesak het. “Al wat ek kon uitkry is ‘help’,” het Japie gesê.

Daar word geskat dat hy toe al reeds tussen 30% en 40% van sy bloed verloor het. Hellen sê Japie was yskoud en spierwit toe sy by die hospitaal gekom het. Sy het omgedraai van die winkel toe ‘n “tannie van die hospitaal haar gebel het om te sê hulle het Japie.”

Ná ‘n dringende bloedoortapping was Japie weer op die herstelpad. Suster Rose van die hospitaal, vertel Japie, het elke kort-kort langs sy bed kom staan en gebid vir sy herstel. “Dit was iets wat ek nooit sal vergeet nie,” het Japie gesê.

Verlede Woensdagoggend, toe Japie ontslaan moes word, het sy toestand skielik agteruit gegaan en het hy gesukkel met sy asemhaling - sy regterlong het ‘n gat in gehad as gevolg van die messteek en het platgeval. Die vog is gedreineer, maar teen Vrydag het Japie se toestand nog nie verbeter nie en is hy oorgeplaas na die hoësorgeenheid van die Unitas Hospitaal in Pretoria.

“Elke keer, net sodra ek dink hy kom huis toe, dan was daar nog iets,” vertel Hellen. “Maandag het ek gebid en gevra dat dit nou die laaste is en dat hy saam met my kan huis toe kom.”

Japie se dokters was tevrede met sy vordering en sê dat die long weer sal herstel. Hy moet net vir die volgende drie weke rustig wees.

“Ek is net bly dat ek weer by my gesin is ... regtig, hulle was al waaraan ek kon dink - niks anders het vir my saakgemaak nie. Ek dink mens kan nooit genoeg kere vir jou familie sê dat jy lief is vir hulle nie ... dit is iets wat niemand as vanselfsprekend moet aanvaar nie,” het Japie gesê.

 
 
 

Viewed: 1947

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Japie se familie het dié foto geneem van sy bussie se sitplek, kort na hy opgeneem is in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT