ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Makhado Polisie is op soek na hierdie man wat hulle behulpsaam kan mees met hul ondersoek na die aanval by die Ferreiras se woning. Foto verskaf.

Dief ontsnap ná hy met piksteel platgetrek word

Date: 11 January 2016 By: Isabel Venter

Die Makhado Polisie is steeds op soek na ‘n vermeende inbreker wat ‘n bejaarde egpaar van Louis Trichardt aangeval het, gevang is, maar weer uit polisie-aanhouding ontsnap het.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane beskou die polisie die voorval in ‘n ernstige lig. Sy het Woensdag bevestig dat die stasie se bestuur besig is met ‘n interne ondersoek na die polisielede wat aan diens was toe die verdagte ontsnap het.  

Die vermeende inbreker is gevang deur die 76-jarige mnr. Chris Ferreira en sy seun Theuns (35). Hulle het die man, wat nog nie geïdentifiseer is nie, in hulle huis betrap.

Die gesin het net na 21:00 op Woensdag, 31 Desember, by die huis gekom, nadat hulle gaan uiteet het. Hulle woon in ‘n huurhuis op ‘n kleinhoewe in Sparrowstraat, die toegangspad na die Kutama Sinthumule Korrektiewe Sentrum.  

Theuns het blindelings die huis ingestorm toe hy opgemerk het dat die veiligheidshek en voordeur oopgeforseer is. Die buitelig was ook uitgeslaan. Oom Chris het vir sy vrou, tannie Meraai, gesê om by die bakkie te wag en het Theuns agternagesit.

Langs die voordeur het ‘n piksteel gelê, wat oom Chris gegryp het voor hy die huis in is. Die inbreker(s) het die pikgedeelte gebruik om die deur oop te forseer. “My wapens was toegesluit in die huis, en ek moes toe maar maak doen met wat ek het,” het oom Chris vertel.

Binne in die huis was daar toe ‘n inbreker gewees. Die booswig het gehardloop tot by die kamers, en het na bewering probeer om vir oom Chris en Theuns in die gesig te steek met hul eie visstokke wat in die hoek gestaan het. “Ek het net weggekeer en met die piksteel na hom geswaai en hom twee keer op die kop geslaan,” het oom Chris gesê.

Die inbreker het vinnig oorgegee, en terwyl daar gewag is vir die polisie het oom Chris en Theuns sy hande met ritskabels (zip ties) vasgebind agter sy rug. Lede van die Soutpansberg Dorpswag was voor die polisie op die toneel en het die inbreker geboei. Nadat die Makhado Polisie opgedaag het, is die Dorpswag se boeie verruil vir polisieboeie.

Die inbreker is gelos om op die sitkamervloer te lê, terwyl drie polisielede saam met oom Chris op die banke gaan sit het om sy verklaring af te neem. Hulle was nog hiermee besig, sê oom Chris, toe die inbreker skielik opspring en by die voordeur uitgestorm het. Theuns het saam met die polisie die inbreker agternagesit, maar die man was te vinnig.

“Daai ou was so vinnig, teen die tyd wat hy by die heining hier agter gekom het, het hy sy hande losgewoel dat dit voor hom is en is hy bo-oor die draad en weg in die bosse,” het oom Chris vertel. Die inbreker het deur die bosse gevlug tot naby Sandberg, waar die polisie sy spoor verloor het.

Oom Chris sê hy is nou nog meer paraat as voorheen, en is reg vir die dag as die inbreker sou besluit om weer by hulle huis in te breek. Hy is egter woedend dat die inbreker daarin kon slaag om te ontsnap. Hy sê dit was duidelik dat die man daar was om te steel, en dat hy gesoek het na die sleutels van die wapenkluis. Ná die voorval is Theuns se skootrekenaar en ‘n bottel brandewyn buite een van die vensters van die huis teruggekry.

Radzilane het Woensdag gesê dat die polisie steeds op soek is na die verdagte. Sy het ook ‘n beroep gedoen op die publiek om na vore te kom indien hulle beskik oor enige inligting wat die polisie kan help in hul soektog. Die stasie kan gekontak word by tel. 015 519 4300.

Intussen het Radzilane bevestig dat die Makhado Polisie 52 arrestasies uitgevoer het gedurende die feesseisoen. Ongelukkig het die arrestasies nie die verdagtes ingesluit wat mnr. Japie van Heerden (sien voorbladberig) aangeval het nie, en ook nie die verdagtes wat op 28 Desember ‘n bussie gesteel het in Bredastraat, of dié wat Cash n Carry naby Bridge Motors dieselfde dag beroof het nie.

 
 
 

Viewed: 866

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die laaikaste se laaie wat oopgeruk en deursoek is deur die inbreker. Foto verskaf.

Oom Chris Ferreira hou die piksteel vas waarmee hy die inbreker 'n paar goeie houe oor die kop gegee het.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT