ADVERTISEMENT:

 

 
 

“Mens is geneig om maklik te vergeet. Die Bosveld het gedurende 2005 ook ‘n ernstige droogte beleef, alhoewel nie so erg soos die huidige een nie,” sê mnr. Carel Breytenbach. Hy het hierdie foto in 2005 geneem van rooibokke en koedoes wat met suikermieliereste op 'n plaas in die Waterpoort-omgewing aan die lewe gehou is.

As dit nie gou reën lyk prentjie vir Soutpansberg maar donker

Date: 08 January 2016 By: Andries van Zyl

Met die reën wat steeds wegbly, versterk die huidige landswye droogtetoestand sy wurggreep ook op die Soutpansberg.

“Ons begin inbeweeg in ‘n krisis as daar nie binne die volgende twee, drie weke iets drasties gaan verander nie. Party van ons is reeds in ‘n krisis en dit vra spesiale maatreëls van bestuur. Dit beteken ons moet dinge anders begin doen. Jy moet jou beursie begin toeknyp en jy moet begin om enige onnodige uitgawes te vermy, want ‘n mens weet nie wat gaan gebeur nie. Maar ek dink nie ons is al in dieselfde krisistoestand soos byvoorbeeld by Bultfontein (so 80 km wes van Bloemfontein) nie. By Bultfontein is dit verby, hulle kan nie meer plant nie. Mens sien hoe lyk dit daar … daardie mense boer op 100% geleende geld,”  het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, Dinsdag gesê.

Hoffman het verduidelik dat die huidige droogtetoestand ‘n verskillende impak het op die streeks se onderskeie tipes boerdery-aktiwiteite. In die Soutpansberg-streek word daar ondermeer met wild en vee, subtropiese gewasse en groente geboer.

Wild en vee

Hoffman sê die groot bekommernis is ten opsigte van lewende hawe soos vee en wild, veral noord van die Soutpansberg. “Daar is plekke waar dit mooi lyk in die Musina-omgewing tot by Venetia Myn. Daardie mense het baie reën gehad so ‘n ruk gelede. Hulle het ‘n 140 mm plus reën gehad wat vir daardie wêreld ongelooflike goeie reën is. So vir die huidige gaan hulle veld pragtig wees, maar selfs daardie mooi veld het opvolgreën nodig,” het Hoffman gesê.

Die slegte nuus vir die Waterpoort-, Alldays- en Swartwater-omgewing, is dat daar nie eintlik reën was nie. “Effektief is daar nie meer eintlik weiding oor nie. Nou is dit weer ‘n geval van as dit nou reën, ja, gras is baie vinnig, gaan die gras definitief weer groei en weiding gee, maar dit gaan beperk wees. Hoe verder ons die seisoen ingaan, selfs as ons in Maart gaan reën kry, is daar baie min groeityd oor vir die gras … daar gaan nog ‘n bietjie blaarkos wees, maar die blaarkos sal ook baie vinnig begin afneem as die bome nie water kry nie,” het Hoffman gesê.

Volgens Hoffman gaan die kos in die veld vanaf Masisi tot by Swartwater nou vinnig opraak, selfs in areas waar dit redelik goed gereën het. “So daar is druk op ons vee- en wildboere om van vee en wild ontslae te raak of te voer. Voer is nogal ‘n kwessie, want die hele land is droog. Waar gaan ons voer kry? Daar is nie plekke waar dit goed gereën het en daar ‘n oorskot van voer is nie ... Dit [boere wat besluit om lewende hawe te verkoop] veroorsaak ‘n ooraanbod by abattoirs, so die [vleis] pryse gaan laag wees, en boere se inkomste uit die verkoop van lewende hawe gaan baie swakker wees as wat dit behoort te wees. Kudde-groottes gaan definitief ook kwaai afneem,” het Hoffman gesê.

Hoffman sê hy weet nie hoe die wildboere die droogtetoestand gaan hanteer nie. “Ek weet nie of ouens gaan begin uitskiet of uitvang nie. As hulle wil uitvang, waar gaan die wild heen? Wie het weiding en voer wat dit gaan koop? Dit maak nie vir my sin nie,” het Hoffman gesê.

Subtropiese gewasse

“Met permanente gewasse [soos subtropiese avokado- en piesangbome] het ons reeds met ‘n kleiner oesverwagting begin as gevolg van die rowwe lente wat ons [in die Levubu-omgewing] gehad het met die storms … so die bome het maar ‘n klompie vrugte afgegooi. Vir eers, met die besproeiing wat ons doen, verwag ons om die oeste wat nou aan die bome is deur te haal, met ‘n bietjie verliese. Dit is so dat die bome nie genoeg water kry nie, so daar gaan ‘n mate van miskien kleiner vrugte wees … of vrugte wat net voor volwassewording afval. Ek praat nou hoofsaaklik van avokado’s en neute, want dit geld nie regtig vir piesangs nie,” het Hoffman gesê. Hy het verduidelik dat die boom selfs besluit hoeveel vrugte hy kan dra. Dit wat hy nie kan hou nie, gooi hy af.

Hoffman meen die direkte impak [van die droogte op permanente gewasse] lê eerder in die jaar wat kom, omdat die bome se energiereserwes baie kleiner gaan wees. Dit gesê, het Hoffman egter bygevoeg, is dit eintlik onmoontlik om ‘n akkurate voorspelling te maak ten opsigte van volgende jaar se oes. “Dit hang van soveel dinge af. Die realiteit is net dat ouens met permanente gewasse klaar hul keuse gemaak het. Hy het wat hy het en moet nou boer gegewe die omstandighede wat nou heers,” het Hoffman gesê.

Verwagting vir groenteboere

Wat groenteboere in die Waterpoort-omgewing betref het Hoffman gesê dit is boere wat uit boorgate besproei. Hy noem dat hy weet van boorgate wat verbrak het, terwyl ander steeds goeie water het. “Maar die oppervlaktes wat aangeplant word gaan definitief kleiner wees. Hierdie buitengewone hitte wat ons het, help ook nie met water toediening nie. Daar is niks wat reënwater vervang nie,” het Hoffman gesê.

Wat die aartappelboere (Alldays/Vivo) betref wou Hoffman nie nou al ‘n voorspelling maak nie. “Dit is weereens besproeiingsboerdery. Ek weet nie wat die ouens se watersituasie in so ‘n droë jaar is nie. Hulle gaan waarskynlik nog ‘n klompie water hê, maar almal is in so ‘n droë jaar maar sensitief oor hoeveel water jy uit jou stelsel neem. As jy hom [boorgat] seermaak, dan is hy nooit weer wat hy was nie. Dit is dus vir ons [boere] baie belangrik om oordeelkundige met boorgatwater te werk,” het Hoffman gesê.

Kan die situasie verander?

Sou goeie reënneerslae binne die volgende twee maande die situasie kan omkeer?

“Dit is te laat. Die skade is reeds gedoen. Goeie reën nou gaan wel help dat die boom weer sy styselreserwes kan optel vir die volgende blomseisoen. Jy weet, ons vrugte is net af, dan blom die boom weer. So jou tyd waarin ‘n boom sy reserwes bou, is Januarie, Februarie en Maart. April is dit koeler, dan begin rus die boom weer. So hy moet nou sy reserwes bou. As ons nou reën kry, gaan dit help om die negatiewe effek op volgende jaar se oes te versag. Maar as die reën te laat kom, dan help dit nie regtig nie,” het Hoffman gesê.

Hoffman sê iets wat saamloop met die droogtetoestand in die land is die mieliemeel-situasie. Hy is bekommerd oor die negatiewe impak wat dit op die provinsie gaan hê. “Ons het dit al by meer as een geleentheid gehoor dat ons mielies sal moet invoer en witmielies is ‘n beperkte produk wat nie deur alle lande geproduseer word nie … Die grootste probleem waarmee Suid-Afrika sit is egter die infrastruktuur om die mielies te versprei. Dit is maklik om die mielies tot by ‘n hawe te bring, maar dit is waar die moeilikheid begin – die verspreiding daarvan na ons meulens toe,” het Hoffman gesê,

Volgens Hoffman gaan bogenoemde veroorsaak dat mieliemeel baie duur gaan raak en selfs skaars gaan raak. “Of hulle hom weer gaan meng soos daardie tyd wat hulle geelmielies saamgemeng het, weet ek nie. Ek het wel gehoor dat van die meulenaars gesê het hulle wil nie. Dit lyk ook vir my of daar ‘n weerstand is teen geelmielies in die mark waar jou groot mieliemeel-aankope is, so ons gaan definitief in die provinsie baie voedseldruk ervaar as gevolg van stygende meelpryse en skaarsheid,” het Hoffman gesê.

Die Toekoms

Oor sy vooruitsigte vir die komende seisoen het Hoffman gesê dit is eerder ‘n wag-en-kyk-en-reageer-op-kondisies situasie as enige iets anders. “Ek dink nie ons moet ‘n wonderlik seisoen verwag nie, maar dit is darem nie totaal net alles duisternis nie. Dit is nog nie die geval nie. As dit egter glad nie gaan reën nie, gaan ons baie moeilikheid vorentoe hê. Miskien draai die situasie. Dit het al in die verlede gebeur dat El Nino padgee en dit van laat Februarie begin reën. Dit kan weer gebeur maar ons weet nie,” het Hoffman gesê.

 
 
 

Viewed: 709

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT