ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 75-jarige oom George Fogwell by die graf van sy ouers waar hy en sy vrou, tannie Anna, op Oukersdag deur twee mans aangeval en beroof is.

Inwoners gemaan om versigtig te wees as grafte besoek word

Date: 07 January 2016 By: Andries van Zyl

Inwoners moet uiters versigtig wees wanneer hulle die munisipale begraafplaas in Louis Trichardt besoek. Dit is die waarskuwing van die 75-jarige oom George Fogwell nadat hy en sy vrou Ann (70) op Oukersdag ‘n nagmerrie-ondervinding daar beleef het.

Oom George vertel dat hulle blomme op die grafte van hul oorlede kleinkind en sy ouers se grafte wou gaan sit laatmiddag omstreeks 17:00. Daar aangekom het hulle sommer by die hek ingery na sy kleinkind se graffie agter die huisie waar die munisipaliteit al die jare hul tuintoerusting gebêre het. Nadat hulle blomme op die graffie gesit het, het hulle in die bakkie geklim en begin afry na waar oom George se ouers begrawe is. “Toe ek begin ry, sien ek hoe twee jong mans al gebukkend langs die sementheining aan die suidelike kant van die begraafplaas afhardloop,” sê oom George. Hy sê hulle het eers gedink dit is kinders wat kattekwaad in die begraafplaas aanvang.

Oom George het sy bakkie in die suidelike hoek van die begraafplaas parkeer en uitgeklim. Dit is toe dat hy opmerk die twee mans, so tussen 30 en 35, skuil tussen die bosse nie ver van die bakkie af nie. “Ek het vir die twee mans gevra wat hulle daar soek?” sê oom George.

Niksvermoedend het oom George omgedraai en na sy ouers se graf begin stap.

Skielik het een van die mans hom van agter gegryp en probeer om sy beursie uit sy agtersak te ruk. Terselfdertyd het die ander man tannie Ann aangeval en haar platgeslaan met ‘n vuishou in die gesig.

‘n Rowwe struweling het ontstaan tussen oom George en die man wat hom van agter gegryp het. Steeds was die ander man ook steeds doenig met tannie Ann. “Hy het haar met ‘n mes in die linkerarm gesteek en geskreeu: Where is you money and cellphone! Ann het vir hom gesê sy het nie geld of ‘n selfoon by haar nie, net die blomme vir die graf,” sê oom George.

Intussen het oom George en sy aanvaller te midde van die struweling gestruikel en geval. Met dié het die man oom George se beursie in die hande gekry, opgestaan en begin wegstap. Paar treë verder het hy die kontant uit die beursie gehaal en die beursie op die grond neergegooi.

Steeds was oom George egter nie klaar met sy aanvaller nie. Hy het sy beursie opgetel, weer die man gegryp en die struweling het voortgeduur. In ‘n stadium het oom George die oorhand begin kry, en die man wat tannie Ann aangeval het, het nader gekom om sy makker te help. “Ann het vir my geskreeu: Pasop, hy het ‘n mes!” sê oom George.

Oomblikke later het die man oom George in die linkerknie en regterheup gesteek. “Gelukkig was die mes se lem maar so 25 mm lank en was die steke nie te diep nie,” sê oom George. Die messteke het hom egter meer woedend gemaak en die eerste kans wat hy gekry het, het hy die man met die mes hard tussen die bene geskop. Altwee die aanvallers het daarna besluit om eerder die hasepad te kies, deur die sementheining in die hoek waar van die sementpilare verwyder is.

Oom George en tannie Ann is bebloed polisiestasie toe om die saak aan te gee. Die polisie het hulle terug vergesel na die begraafplaas, waarna die egpaar dokter toe is om mediese behandeling en steke te ontvang. Al wat die booswigte op die einde gesteel het, was ‘n paar honderd rand in kontant. Meer ontstellend, sê oom George, is dat hy ondermeer deur die polisie meegedeel is dat daar soortgelyke aanvalle by die begraafplaas die voorafgaande maand of wat plaasgevind het. “Mense, moet asseblief nie alleen begraafplaas toe gaan nie, veral nie vrouens nie. Probeer maar altyd in ‘n groep gaan en verkieslik ook nie laatmiddag of vroegoggend nie,” het oom George ná afloop van hul nare ondervinding gewaarsku.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het Woensdag by navraag die aanval bevestig en gesê sy weet ook van ‘n soortgelyk aanval in November. In beide gevalle, sê sy, is nog geen arrestasies gemaak nie.

 
 
 

Viewed: 921

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die Fogwell-egpaar se aanvallers het die hasepad gekies in die suidelike hoek van die sementheining om die begraafplaas waar booswigte van die sementpilare uitgebreek het.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT