ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Minister se appèl teen uitspraak te verwagte

Date: 18 December 2015 By: Isabel Venter

Die tyd sal leer of die moratorium op die handeldryf in renosterhorings permanent gelig sal word al dan nie.

Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, het verlede week ‘n aansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien om toestemming te kry om appèl aan te teken teen dié einste hof se beslissing sowat twee weke gelede.

‘n Volbank regters het die regering se jarelange moratorium op die binnelandse handel in renosterhorings op 26 November tersyde gestel. Die regters het bevind dat die regering nie ‘n behoorlike konsultasieproses gevolg het voordat hulle die moratorium in plek gestel het nie.  

Dit is juis hierdie punt waarteen die Staatsprokureur appelleer namens die minister. “Die regters het ‘n fout begaan deur te bevind dat die [destydse] minister [van omgewingsake] onder ‘n wetlike verpligting gestaan het om met gemeenskappe en besigheidseienaars, wat in die onmiddellike omgewing waar daar met renosters geteel word, te konsulteer,” word in die hofstukke aangevoer.

Verder het Molewa in haar aansoek gevra dat Johan Kruger en John Hume, wat die oorspronklike aansoek gebring het, self hul eie regsonkostes moet betaal. Regter Francis Legodi het in sy uitspraak sowat vier weke gelede beslis die minister is verantwoordelik vir Kruger en Hume se uitgawes wat hulle aangegaan het om die moratorium gelig te kry.

Kruger se regsverteenwoordiger, mnr. Hennie Erwee van Erwee Prokureurs in Musina wat gehelp het met die saak, het gesê dit kom as geen verrassing dat die minister teen die besluit gaan appelleer nie. Hy reken die minister wil haarself die verleentheid spaar wanneer sy volgende jaar die gasheer sal wees vir die internasionale Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES). Met ‘n hangende regsproses sal minister Molewa die konvensie kan gerusstel dat die hof se uitspraak nog nie van krag is alvorens die appèlproses nie afgehandel is nie.

Erwee het bevestig dat sy instruksies is om enige appèl ten sterkste te opponeer. Hy is positief dat hulle regspan dit suksesvol sal kan doen. “Persoonlik dink ek die publiek is moeg vir die regering se onvermoë om dienste te lewer, en is hierdie maar net weer so ‘n geval waar privaatrenosterboere moeg geraak het ... en die saak na regters verwys het,” het Erwee aan die Zoutpansberger gesê.

“Ons het hierdie geveg gewen, maar nog nie die oorlog nie. Ons sal vir seker voortgaan tot ons die oorlog gewen het in belang van renosters; die regering het nie die vermoë om dit te doen nie,” het Erwee verder gesê.

Teen druktyd het minister Molewa se woordvoerder, mnr. Albi Modise, bevestig dat die departement se aansoek nog nie aangehoor is nie. Hy het gesê dit hang af hoe besig die hof is en dat die hof se skedule sal bepaal wanneer hulle die aansoek sal verwerk.

 
 
 

Viewed: 342

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT