ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Haflingers het ligte werk gemaak van die rotsagtige Soutpansberg.

Haflinger trio op unieke tog deur Soutpansberg

Date: 19 November 2015 By: Anton van Zyl

Die Soutpansberg het einde Oktober besoek ontvang van drie besonderse Oostenrykse afstammelinge (en hul passasiers). Twee van hulle het sowat ses-en-‘n-half uur vanaf Pretoria gereis om in Louis Trichardt en omgewing te kom kuier.

Die “Oostenrykse besoekers” was baie unieke vierwielaangedrewe voertuie wat kort na die Tweede Wêreldoorlog deur die Steyr-Daimler-Puch maatskappy vervaardig is. Die klein Haflingers, soos wat hulle bekendstaan, het regdeur die wêreld bekendheid verwerf vir hulle vermoë om bykans enige terrein te kan aandurf. As die terrein regtig onbegaanbaar is, kan vier sterk mans die voertuig optel en dra tot waar dit weer vastrapplek kan kry.

Die besoekende Haflingers behoort aan Carl en Manda Theron en Chris en Elmi de Jager, almal van Pretoria. In Louis Trichardt het hulle by Charles Leach en sy seun, Andy, aangesluit. Sover vasgestel kon word, besit Charles die enigste geregistreerde, padwaardige Haflinger in Limpopo. Fanie Geyer, op ‘n Ural motorfiets met syspan, het die groep vergesel op ‘n gedeelte van die tog tot by Walfield aan die suidekant van die Rushton-vallei.

Die Haflingers se vermoë is getoets op die ou “koperpad” wat oor die westelike Soutpansberg strek. Dié roete is meer as 100 jaar gelede gebruik deur die ossewaens wat kopererts vanaf Musina na Pietersburg (Polokwane) vervoer het. Soos die gebruik was in die verlede het elkeen van die “reisigers” ‘n klip op die stapel langs die roete geplaas om hulle voorvaders te bedank vir ‘n veilige reis.

Die roete, wat by die woning van dr. Lappies Labuschagne begin het, het die groep tot by Bloekomspoort geneem en vandaar na die plaas van dr. Freddie Harris in die Rushton-vallei. Die groep Haflinger-entoesiaste het die volgende oggend die baie moeilike roete oor die kliprante gevolg tot by Brink Schlesinger se plaas in die Waterpoort-omgewing.

“Die terrein waardeur ons gery het, was baie uitdagend met steiltes op en af, klipperig en ook los sandkolle asook ‘n waterkruising,” vertel Carl Theron. “Na elke uitdaging word daar aan almal vertel dit was die moeilikste uitdaging, net om ‘n paar minute later in ‘n groter uitdaging te land, maar dit was ‘n wonderlike ervaring,” sê hy.

Die groep was veral beïndruk met die groot verskeidenheid padoppervlaktes wat in die Soutpansberg voorkom. Die diversiteit van die omgewing is gereflekteer in die plantegroei en rotsformasies.

Na ‘n afkoelsessie Saterdag by die “glygat” in die Mutambarivier op Brink se plaas, het die groep teruggery op die noordelike deel van die “koperpad” tot by die Harris opstal, en weer daar oornag. Die volgende dag het hulle met die Bloekomspoort-pad teruggery N1 toe en die aand oornag by Gail en Alistair Matham op Zwakanaka.

“Wat egter meer lof (as die motors se vermoëns) moet verdien, is die gasvryheid en opregtheid van die Soutpansbergers. Vir Charles, Dr Lappies, Freddie en Brink met jul families wil ons jul net bedank vir ‘n onvergeetlike avontuur en al die stories van die geskiedenis, bome en plante van jul omgewing wat julle met ons gedeel het,” het die groeplede in ‘n e-pos gesê.

Dit was waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis dat soveel Haflingers op ‘n ekspedisie in die Soutpansberg byeen was. Die Haflingers is egter die ideale voertuig vir avontuurlustiges wat rowwe terrein moet betree. In die jare 1959 tot 1974 is 16 647 van die voertuie gebou, maar die meeste is gekoop deur die Switserse en Oostenrykse weermagte.

Die voertuie is slegs 1,5 meter wyd en 3,5 meter lank en spog met ‘n tweesilinder 646 cc enjin. Die voorste en agterste ewenaars kan sluit, wat meebring dat daar traksie is, selfs al raak net een wiel die grond. Die onafhanklike vering beteken ook dat die bakwerk nooit naby aan die grond is nie en die spasiëring van die wiele laat die voertuig toe om teen steiltes van tot 40 grade op en af te ry.

 
 
 

Viewed: 401

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Van links af staan Fanie Geyer, Manda en Carl Theron, Charles Leach en Chris de Jager.

Die drie Haflingers, afgeneem op Bloekomspoort in die Soutpansberg.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT