ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jaco Roux in sy ateljee op die familieplaas in die Levubu-vallei. Agter hom is een van die skilderye wat hy klaargemaak het vir sy nuutste Satara-versameling.

Roux gee nuwe karakter aan streek deur sy kuns

Date: 19 November 2015 By: Isabel Venter

Nie baie mense weet dit nie, maar hier in die hartjie van die Levubu-vallei woon ‘n skilder wat met die gebruik van kleur en sterk lyne ‘n nuwe perspektief gee aan die natuurskoon van die Soutpansberg.

Jaco Roux se nuutste uitstalling, wat ‘n abstrakte en naturalistiese kunservaring bied, is tans te sien by die Christopher Moller Galery in Kaapstad. Sy uitstalling is getiteld Satara, na die gewilde ruskamp van die Kruger Nasionale Park (KNP). Jaco se skilderye is so gewild dat 11 van die 15 skilderye in die Satara-versameling reeds verkoop is nog voor die uitstalling oopgestel is vir die publiek.  

So met die jare het Jaco se kunswerke huise gekry in besigheids- en privaatversamelings in Switserland, Engeland, Ierland, China, Ysland en Amerika - om maar net ‘n paar te noem.

Dit is moeilik om te glo dat, met die sukses wat hy behaal het as kunstenaar, Jaco eintlik voltyds boer op die familieplaas naby Levubu (sowat 30 km van Louis Trichardt). Hy verf eintlik net oor naweke as hy kans kry.

In sy ateljee, sy heiligdom, roep die mure letterlik Jaco se liefde vir kleur uit. In die middel spog ‘n lang tafel met ‘n mengelmoes van kleure. Tussen-in lê foto’s, aanmekaar geplak met kleefband, om die landskaptonele te vorm wat Jaco so lief is om te skilder.

‘n Hoekie word opmekaar geskuif om plek te maak vir die koffie voordat Jaco begin vertel oor homself en sy kuns.

Hy is hier in Louis Trichardt gebore op 1 Julie 1962, en het hier beide sy laer- en hoërskoolloopbaan voltooi. Hierna het hy in 1984 sy BA-honneursgraad in die Fynere Kunste verwerf aan die Universiteit van Pretoria. Hy het ook in die daaropvolgende jaar sy hoëronderwysdiploma in kuns voltooi.

Ná universiteit het Jaco vir sewe jaar lank klas gegee, as die hoof van die kunsdepartement by Afrikaans Seuns Hoërskool in Pretoria. In 1995 keer hy terug na die plaas om te help met die neut- en avokadoboerdery. Gedurende hierdie tyd was Jaco ook gekies om deel te wees aan die Neuchatel Arts-uitstalling in Switserland.

“In my skilderye probeer ek om die dramatiese landskappe in en rondom die Soutpansberg en Limpopovallei, met sy growwe teksture, sterk kleure en skerp kontraste, vas te vang,” het Jaco gesê.

Die verf van landskaptonele, met die helder blokke wat die toneel amper verdeel, het baie instinktief ontwikkel in Jaco. “Ek was nog altyd lief vir kleur, en laat die doek my lei,” vertel hy. Jaco se ander inspirasie kry hy van sy groot mentor en vorige dosent, die welbekende skilder Nico Roos, wie se werk ook gebruik gemaak het van sterk kleure en lyne.  

Jaco se landskaptonele word aan die bo-kant van die doek geverf, en is vir ‘n ware Soutpansberger maklik uitkenbaar (Matoks, Masisi, Makhuya Park en die Khongani vlaktes van Mapungubwe).  Hierdie tonele het almal deel gevorm van sy My Limpopo-uitstalling, waar die landskappe meer in die kleurblokke gevloei het.

Die Satara-versameling se landskaptonele is almal uit die wildtuin, en staan in skerper kontras met die helderkleurige blokke.

“Dit bring die landskap op ‘n twee dimensionele vlak na ‘n mens – want jy is hier vas, plat – en dan kry jy die diepte agtertoe,” beduie Jaco van die blokke na die landskap. “Die lyne en kleur aksentueer die landskap - die hooffokus is altyd die landskap,” verduidelik hy.

Jaco het verlede week ‘n paar dae in die Kaap spandeer vir die opening van Satara se uitstalling, en het nie onmiddellik planne vir ‘n volgende uitstalling nie. Hy fokus vir nou eers op die boerdery. 

 

 
 
 

Viewed: 240

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT