ADVERTISEMENT:

 

 
 

Melanie Jensen en Erika Klopper het ‘n paar benoude oomblikke beleef tydens Maandag se vuur by Ratombo. In ‘n stadium het hul grasdakke al begin smeul. Was dit nie vir die gemeenskap se vinnige hulp nie, het hul woning in die slag gebly. Foto verskaf.

Verskroeide aarde

Date: 16 November 2015 By: Andries van Zyl

Die versengende hitte en heersende droogtetoestande is besig om krisisafmetings aan te neem ten opsigte van ‘n verhoogde gevaar aan wegholveldbrande.

Miljoene rande se skade is Maandag en Dinsdag deur ‘n wegholveldbrand aangerig by die Ratombo-plantasies, net verby Royal Macadamia op die Louis Trichardt/Thohoyandou-pad.

Volgens mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, het die brand Maandagmiddag op ‘n gemeenskapsplaas ontstaan. Die vuur het vinnig na die bloekomplantasies by Ratombo versprei. “Al wat ons Maandag hoofsaaklik gedoen het, was om behuising te probeer beskerm, soos op die plaas van Melanie Jenses en Erika Klopper. Ons het ons hande vol gehad. Al die waterkarre en boere was daar,” sê Ahrens.

Jensen en Klopper is baie dankbaar vir die gemeenskap wat so vinnig ingespring het om te kom help. “Van die grasdakke het al begin smeul. Dit was so amper-amper!” sê Klopper. Sy was  die plaas toe die vuur aangewaai gekom het. Presies ‘n week vantevore het een van hul plase in Botswana heeltemal afgebrand.

Klopper kon nie ophou om die lof te besing van almal wat hulle te hulp gesnel het nie. “Die manier hoe mense ons gehelp het was verstommend. Daardie onbaatsugtige hulp wat jy kry is ongelooflik!” sê Klopper. Binne 10 minute nadat sy vir hulp begin rondskakel het, het die gemeenskap, wit en swart, in groot getalle opgedaag om te kom help. “Mense kla so maklik oor die dorp en omstandighede, maar dan gebeur so iets en die gemeenskap kom wys hul staal. Vandag staan ons nederig en dankbaar teenoor ‘n wonderlike gemeenskap. Die ywer waarmee hulle tot laatnag net aangehou en aangehou het – dit was wonderlik om te sien,” sê Klopper.

Mnr. Juan-Ray Greyling van Stevens Lumber Mills by Ratombo het Woensdag by navraag gesê dat hulle nog besig is met ‘n skadebepaling van die vuur. Volgens hom was dit meestal bloekomboorde wat verwoes is, alhoewel die vuur ook by een denneplantasie skade veroorsaak het. Die vuur het vir meer as 24 uur gewoed en volgens Greyling kon hulle eers teen Dinsdagaand 20:00 die vuur onder beheer kry.

Alhoewel hulle nog besig is met ‘n skadebepaling, skat Greyling dat sowat 500ha plantasies in die slag gebly het. “Dit werk uit op so tussen R15 miljoen en R20 miljoen se skade aan verlies aan inkomste. Al die bome moet afgesny word en dit vat tussen ses en agt jaar voordat ons weer kan oes,” sê Greyling.

“Dit is ‘n nekslag vir die Soutpansberg se houtbedryf. Die vuur het die gemeenskap baie geld gekos,” sê Ahrens.

Na aanleiding van Maandag en Dinsdag se brand het Ahrens inwoners ernstig vermaan om glad nie oop vure te maak nie. Dié brand volg kort op die hakke van die massiewe veldbrand in die Waterpoort-omgewing voorverlede week wat meer as 4 000ha se veld en weiding in puin gelê het. “Ek wil vir die mense vra om asseblief nie nou oop vure te maak nie. Met hierdie hitte en wind versprei ‘n vuur baie vinnig. Die veld en natuurlike bos is baie, baie droog. Daar het bykans nog geen goeie lentereën hierdie jaar geval. As dit goed gereën het, sou die veld groen gewees het, wat die kans van vuur dramaties sou verlaag het,” sê Ahrens. Hy het boere versoek om dringend hul radiokommunikasie met hul bure op te skerp en te belê ‘n goeie brandbestrydingstoerusting.

 
 
 

Viewed: 424

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Mnr. Fritz Ahrens (voorgrond), voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, en lede van die gemeenskap veg skouer aan skouer om die vuur onder beheer te propeer kry. Foto verskaf. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT