ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Droogte herinner sterk aan droë 1983 tot 1994

Date: 16 November 2015 By: Andries van Zyl

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het Woensdag sy ernstige kommer uitgespreek oor die effek wat die heersende droogtetoestand en uiterste hitte op die landbou sal hê.

“Die situasie is baie ernstig. Dit herinner sterk aan die droogte wat van 1983 tot 1994 geduur het, want ons kom nie in ‘n patroon met ons weerstoestande nie. Dit raak ontsaglik warm in die dag en koel weer af in die aand – dit is nie gunstige toestande vir reën nie,” sê Hoffman.

Hy het genoem dat hulle tot Desember 2014 goeie reën gehad het. “Toe het die reën weggebly tot einde Maart. Einde Maart tot middel April het dit redelik goed gereën, wat ons deur die winter kon dra. September se reën het hoop gegee. Suid van die berg het die veld groen geword, en so ook dele noord. Daarna het die reën weggebly,” sê Hoffman.

Hy het verduidelik dat September en Oktober gewoonlik dien as aanloop tot goeie reën ten opsigte van die opbou van donderstorms. “Daarvan het ons nog niks gesien nie. Dit maak my baie bekommerd,” sê Hoffman.

Hoffman sê dat hyself oor ‘n periode van 20 jaar bepaal het dat 21 November die keerdatum is vir die reën om te begin. “Ek is nie baie optimisties dat ons goeie reën gaan kry nie. Ek sê egter nie dat dit glad nie gaan reën nie. Ons kan dalk ‘n paar goeie donderstorms kry,” sê hy.

Weens die afwesigheid van reën, sê Hoffman, is die watersituasie reeds kritiek, veral in die Louis Trichardt en Levubu areas. “Tot ses weke gelede het die vrugset ten opsigte van avokadopere, makadamias en lietjies goed gelyk, maar nou lyk die situasie baie anders. Ons het reeds baie van die jong vrug verloor,” het Hoffman gesê.

Wat die hoë dagtemperature betref beskou Hoffman die situasie as uiters ongewoon. “Ons het al meer hoë-temperatuur dae gehad as vir die hele seisoen (Oktober tot November). Temperature is al van vroeg Oktober af uiters hoog. Ek is seker daarvan dat vanjaar gaan uitstyg as een van die warmste jare ooit,” het Hoffman gesê.

Die voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, mnr. Fritz Ahrens, is eweneens bekommerd oor die droogtetoestand en afwesigheid van reën. “Ek is ook baie bekommerd. Oral daal die watertafels. Ek self het ‘n plaas wat nie meer water het nie. Die lietjies begin afval, alhoewel hulle nog nie ryp is nie. Jy kan maar probeer natspuit, maar dit help nie. Die laaste paar jare was dit nie ongewoon om so ‘n paar dae van temperature bo 30°C te hê nie, maar nie soos nou elke dag nie. Hierdie tipe hitte is ongekend!” het Ahrens gesê.

Oor die finansiële impak wat die voortslepende droogte op die landbou gaan hê, sê Ahrens dat baie boere reeds die uitwerking hiervan voel. “Daar is definitief ‘n finansiële implikasie vir boere in tye van droogte. As die hitte so gaan aanhou, maak dit baie boere se finansiële situasie benard. Soos ons almal weet, is finansiële ondersteuning van die regering aan kommersiële boere nul,” sê Ahrens.

Te midde van die droogtetoestand, met weinig vooruitsig dat die situasie binnekort gaan verander, was Hoffman steeds optimisties. “Ons het die droogte van 1983 deurgemaak en ons sal hierdie een ook deurmaak,” het hy gesê.

Beide Hoffman en Ahrens het ook hul kommer uitgespreek dat die huidige droë en warm toestande al meer gunstige omstandighede skep vir wegholveldbrande soos dié wat die afgelope twee weke miljoene rande se skade in die Waterpoort- en Ratombo-areas aangerig het.

 
 
 

Viewed: 478

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT