ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wally Schultz, plaaslike AfriForum voorsitter, sê AfriForum is reg om oor te vat by die Vhembe Distriksmunisipaliteit en hulle aksieplan in werking te stel.

AfriForum dreig om self water oor te neem

Date: 14 November 2015 By: Isabel Venter

Daar heers tans baie vrae oor watervoorsiening aan Louis Trichardt, en tot onlangs toe was die antwoorde maar min gewees.

AfriForum se Louis Trichardt-tak het vandeesweek aangekondig dat hulle ‘n hernude poging aangewend het om die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) te dwing tot aksie. Hulle poging om ‘n finale ultimatum te stel aan die VDM op 10 Junie vanjaar was nie geslaag nie.

Volgens die tak se voorsitter, mnr. Wally Schultz, is die korrekte wetlike prosedures nie gevolg toe dié eerste brief gestuur is nie. Dit was ook gedurende dié tyd wat hy ‘n aksieplan bekendgestel het om watertekorte in die dorp daadwerklik aan te spreek.

In die eerste brief is die VDM sewe werksdae gegun om hulle eendjies in ‘n ry te kry. AfriForum se hoofkantoor het gesê dit was te min tyd. Hierdie keer het hulle die korrekte prosedure gevolg en eers in gesprek getree met VDM se waterkomitee, voor die ultimatum weer gestel is.

Die Zoutpansberger is in besit van ‘n kopié van die nuwe ultimatumbrief, gedateer 10 November, waarin die VDM 14 werksdae gegun word om hul waterinfrastruktuur in ‘n werkende toestand te kry.  

Schutlz het gesê as die dorp se reservoirs nie teen 30 November (teen die einde van die 14 dae) vol is nie, AfriForum dadelik die bestuur van die water infrastruktuur sal oorneem - op die koste van die VDM.  “Ons kontrakteurs is op bystand en reg om te gaan,” het Schultz Dinsdag gesê.

AfriForum se plan sal behels dat die huidige boorgate – daar is 12 – so gou as moontlik herstel word. Daar is van die boorgate wat gebrekkige sekuriteitsmaatreëls het, pompe wat nie werk nie of lekkende pype het.

Schultz het verduidelik dat ‘n nuwe plan nodig geword het omdat die hofbevel wat AfriForum op 2 Oktober 2012 gekry het, nie meer ‘n swaard is wat hulle teen die VDM kan gebruik. “Mense besef nie dat die VDM grotendeels voldoen het aan hierdie bevel nie,” het hy gesê.

Hy het verduidelik dat die VDM vir die meeste van die tyd water verskaf, maar tekort skiet weens die verouderde pyplyn van die Albasinidam. “Die lyn is verouderd sedert 1984, en sal heeltemal oorgedoen moet word,” het Schultz bygevoeg.

Helaas kan die lyn nie vervang word nie, want daar is nog nie voorsiening gemaak vir bystandwater nie. Dit is waarom AfriForum sê hulle aksieplan is van kritieke belang. “Dit sal water verskaf terwyl lekke reggemaak word, en ook in die toekoms as die toevoer in die Albasinilyn heeltemal gestaak moet word en ‘n nuwe lyn geïnstalleer word,” het Schultz gesê.

 
 
 

Viewed: 241

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT