ADVERTISEMENT:

 

 
 

Maxwell Sithole. Foto: Makhado SAPD.

Vlaag van misdaad duur steeds voort

Date: 13 November 2015 By: Isabel Venter

Misdaad is vinnig besig om ongekende hoogtes te bereik hier in Louis Trichardt.

Daar gaan bykans nie ‘n week verby sonder dat daar ‘n nuwe voorval aangemeld word nie. In die laaste twee weke het twee bekende besighede deurgeloop onder skelms.

Die KFC-eetplek in Songozwistraat het op Maandag, 2 November, deurgeloop onder gewapende rowers. Niemand is beseer in die voorval, maar die rowers kon daarin slaag om weg te kom met ‘n onbekende bedrag geld.

Dié misdaadvlaag is hervat oor die afgelope naweek, toe daar by die gewilde kuierplek, Die Grasdak Gastehuis in Cillierstraat, ingebreek is.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het Woensdag die voorval bevestig en gesê die dief het weggekom met ‘n leë kasregisterlaai.

Daar is ook gedurende die naweek ingebreek by ‘n woning op die hoek van Reitz- en Joubertstraat.

Die naweek se gebeure het oorgespoel in die nuwe week. Daar is Maandag berigte ontvang dat daar by die Bergwater Hotel, in Rissikstraat, ‘n gewapende roof was. Radzilane het Woensdag bevestig dat drie onbekende mans, van wie net een gewapend was, ‘n werknemer by die hotel vasgebind het. Hierna het die rowers die kluis met ‘n hamer oopgeforseer en ‘n onbekende hoeveelheid kontant gebuit voor hulle op die vlug geslaan het.

Dinsdagaand is daar ook ingebreek by die perseel van Gouws Auctioneers in Presidentstraat.

Radzilane het bevestig dat daar nog geen arrestasies gemaak is in enige van dié nuutste voorvalle nie.

Sy het, by verdere navraag, bevestig dat daar ook nog geen arrestasies gemaak is in die moordsake van Jonas Sirovheli, Maggie Castleman of Johan Oelofse nie.

Sirovheli is in September op sy werkgewers se plaas, langs die Vondelingpad, doodgesteek en beroof van sy salaris. Castleman is kort na hom doodgeskiet naby die perseel van Gouws Auctioneers, terwyl sy van die koordlose Internet gebruik gemaak het van haar werkgewer.

Radzilane het egter gesê die polisie is dringend op soek na Maxwell Sithole (sien foto hiernaas). Sithole kan die polisie glo bystaan met hul ondersoek na die moord van Oelofse (42) wat op 25 Oktober doodgeskiet is op ‘n kleinhoewe langs die Vondelingpad. Kort ná die skietvoorval is ‘n verdagte aangekeer, nadat hy deur die polisie gewond is. Hierdie man sterk, volgens Radzilane, aan in die hospitaal en het verlede week in absentia in die Louis Trichardt landdroshof verskyn. Sy saak is uitgestel tot en met 20 November, waar hy na verwagting formeel aangekla sal word en sy identiteit bekendgemaak sal word.

 

 
 
 

Viewed: 311

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT