ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Werkspan van Belta Services in Louis Trichardt, besig om die pompstasie te herstel by die Albasinidam. Weens dié stukkende pompstasie het die dorp se twee grootste reservoirs leeg geloop. ​Foto verskaf.

Daar is genoeg water, maar niks in die krane

Date: 08 November 2015 By: Isabel Venter

Daar is genoeg water in die dam, maar niks in huise se krane nie...

Te midde van die knellende hitte in die Soutpansbergstreek het water hier in Louis Trichardt se krane weereens opgedroog. Dit wil egter blyk dat dit darem nie ál die inwoners is wat gekortwiek word sonder water nie. 

Volgens die terugvoer wat lesers aan die koerant gegee het op ‘n vraag, is dit veral die nuwe uitbreiding (Buffel- en Rooibokstraat) en 'n deel van die ou dorp (Jeppe- en Rissikstraat) wat op die oomblik sonder water moet klaarkom.

Die ergste waternood word egter ervaar deur die inwoners wat tussen Stubbs- en Ruhstraat woon. In hierdie area is daar huise, besighede, die Hervormde Kerk, die Hoërskool Louis Trichardt, die Louis Trichardt Gedenkhospitaal en die gholfklub geleë.

Die Smit-gesin wat in Stubbsstraat woon, naby die Blouberg Dierekliniek, het verlede week derduisende rande spandeer om ‘n boorgat te sink om te help met die waternood. Ongelukkig vir hulle was die boorgat droog, en moet hulle nou nog steeds voortsukkel.  

Hoërskool Louis Trichardt het by monde van mev. Elsa Retief Dinsdag bevestig dat hulle nie kan onthou wanneer laas hulle munisipale water gehad het nie. Hulle maak staat op boorgatwater.

Mnr. Gert van der Westhuizen van Madi Gra Water (op die hoek van Stubbss- en Kroghstraat) het Dinsdag gesê hy vermoed die skool het al sedert Mei-maand min tot geen munisipale water nie. “Dit is van wanneer af ek sukkel sonder water,” het Van der Westhuizen Dinsdag gesê. Hy het verder bevestig dat hy duisende rande se uitgawes moes aangaan om water aan te ry na sy perseel wat hy moet suiwer. “Ek het tydens laas week se basaar hier by die Hervormde Kerk ook vir hulle water aangery; hulle sukkel al net so lank soos ek,” het Van der Westhuizen bygevoeg.

Die koerant kon daarin slaag om by nie-amptelike bronne ná aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) te bevestig dat daar sedert verlede week aan die Albasinidam se pompstasies gewerk word en dat daar 'n massiewe lek op die pyplyn was. Dit was die rede hoekom inwoners in die nuwe uitbreiding nou weer ewe skielik sonder water is.

In die geval van inwoners wes van die N1, tot en met die hoërskool en Ruhstraat, is dit glo omdat die pompstasies wat die Berghstraat reservoir moet voorsien sedert Meimaand buite werking is. Volgens mnr. Wally Schultz, voorsitter van die Louis Trichardt AfriForum-tak, word die Berghstraat reservoir tans gevul uit die Mowkop reservoir in die nuwe uitbreiding. “Maar Mowkop was so lanklaas vol weens die Albasinilyn wat kort-kort afgesit word, dat die water bitter min ooit rêrig by Berghstraat uitkom,” het hy verduidelik.

Daar is ook ‘n reservoir naby Tshikota, wat deur twee boorgate van water voorsien word. Hierdie reservoir is veronderstel om water te voorsien aan Tshikota, asook inwoners wat in die ou deel van die dorp woon.

Teen Woensdag was al die reservoirs in Louis Trichardt, insluitende die een naby Tshikota, leeg of naby aan leeg. Die koerant kon bevestig dat die pyp teen laatmiddag weer in ‘n werkende toestand sou wees en begin water pomp.

Geen inligting was teen druktyd beskikbaar oor wanneer die toevoer na die Tshikota reservoir herstel sou word nie. 

 
 
 

Viewed: 138

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Frans Muleya, 'n werknemer van Madi Gra, by 'n droë brandkraan op die hoek van Stubbs- en Kroghstraat. Hierdie deel van die dorp het weining water sedert Mei maand al.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT