ADVERTISEMENT:

 

 
 

 ‘n Verwoestende veldbrand in die Waterpoort-omgewing het Maandag meer as 4 000 ha se weiding in puin gelê. Dit het vir talle boere wat reeds sukkel met weiding te midde van die heersende droogtetoestand ‘n geweldige nekslag toegedien. Foto’s verskaf.

Vuur knak boere

Date: 09 November 2015 By: Andries van Zyl

Te midde van die reeds erge droogtetoestand in die Soutpansberg is boere in die Waterpoort-omgewing die afgelope week ‘n verdere nekslag toegedien toe ‘n verwoestende veldbrand meer as 4 000 ha se weiding in puin gelê het.

Die brand het vermoedelik tussen 08:00 en 10:00 Maandagoggend op ‘n plaas sowat 25 km wes van Waterpoort ontstaan, vanwaar dit na vyf buurplase versprei het. Een van die plase het in totaliteit afgebrand. “Gelukkig het daar niks geboue en strukture in die slag gebly nie. Ek dra tans ook geen kennis van enige wild- of veeverliese nie,” het mnr. Rudolph Otto, voorsitter van die Waterpoort Boerevereniging, Woensdag gesê.

Grondeienaars, plaasarbeiders en selfs boere vanaf Vivo het hul hande vol gehad om die brand onder beheer te kry. Otto sê hul werk is veral belemmer deur die sterk wind wat gewaai het. “Die sterk wind het ons die heeltyd op die agtervoet gehad, omdat dit die hele tyd gedwarrel het. Net as jy op ‘n plek begin terugbrand, swaai die wind om en dan spring die vuur weer,” het Otto gesê.

Daar is feitlik deurnag gespook om die vuur onder beheer te kry. “Die laaste mense het eers so 03:00 Dinsdagoggend klaargemaak,” het Otto gesê. Hy het bygevoeg dat die brand veel erger kon gewees het, was dit nie dat die boere se brandbane in so ‘n goeie toestand was nie. “Dinsdagoggend was daar weer twee opvlammings, maar ons kon dié brande binne ‘n uur onder beheer kry,” het Otto gesê.

Otto het genoem dat die moontlikheid bestaan dat die vuur kwaadwillig begin is en dat die polisie die brand ondersoek.

Volgens Otto is daar geen twyfel dat die versengende hitte van Maandag en Dinsdag, asook die huidige droogtetoestand, daartoe bygedra het dat die vuur so vinnig versprei het nie. “Ons bid vir goeie reën, asook goeie opvolgreën,” het Otto gesê.

Wat die verlies aan weiding betref, het Otto gesê, is dit hoofsaaklik wildsplase wat deur die brand geraak is. “Vir baie van die plaaseienaars was dit al weiding wat hulle gehad het en sal hulle nou moet begin voer,” het Otto gesê.

Die prentjie lyk egter maar sleg vir nie net boere in die Soutpansberg nie, maar vir boere landswyd. Die Staat het reeds aangedui dat geen droogtehulp aan boere gegee sal word nie (sien meegaande berig). Daar is ook geen korttermyn vooruitsig vir goeie reënneerslae nie, aldus die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermyn weervoorspelling vir die periode Oktober 2015 tot Februarie 2016. Hul voorspelling is geskoei op die huidige swak El Niño toestand, wat ‘n ondergemiddelde reënval aandui, asook hoër somertemperature.

Intussen is waterbeperkings vir Limpopo reeds in September vanjaar aangekondig. Dit nadat me. Margaret-Ann Diedericks in haar hoedanigheid as Direkteur-generaal van die Departement Waterwese en Sanitasie in die Staatskoerant van 2 September aangekondig dat daar sterk gronde is om te glo dat waterskaarste in die provinsie bestaan weens die huidige droogtetoestand. Derhalwe het sy waterbeperkings aangekondig vir die Nzhelele area stroomop van Mutshedsi en die Nzheleledam se opvangsgebied, sowel as die Nwanedzi-, Klein Letaba-, Molototsi- en Tzaneen opvangsgebiede.

Talle boere in die streeks het reeds vroeër vanjaar aangedui dat die droogtetoestand krisisafmeting op hul plase aanneem, ‘n situasie wat by die dag erger word. Van hierdie boere koop reeds voer aan teen groot ekstra koste. In die Levubu-omgewing, soos vroeër berig, het talle standhoudende fonteine en boorgate die afgelope paar maande opgedroog. Die sink van nuwe boorgate kom ook teen ‘n prys, en weens verhoogte insetkoste waarsku boere dat verbruikers ‘n verhoging in prys op landbougewasse kan verwag.

Wat Maandag se brand in die Waterpoort-omgewing betref, het Otto inwoners wat beskik oor ekstra weiding of voer versoek om dringend met hom kontak te maak. Hy kan geskakel word by tel. 072 412 2593. Hy het ook elkeen wat by Maandag en Dinsdag se poging betrokke was om die brand onder beheer te kry, bedank vir hul onbaatsugtige hulp.

 
 
 

Viewed: 471

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT