ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

November ‘n maand van uiterstes

Date: 09 November 2015 By: Andries van Zyl

Lugversorgers en waaiers het die afgelope week behoorlik oortyd gewerk in die Soutpansberg-streek, met inwoners wat desperaat gepoog het om af te koel te midde van die versengende hitte.

Die hittegolftoestande het genadiglik Dinsdag begin wyk, maar nie alvorens ‘n paar nuwe rekordtemperateure landswyd vir November opgestel is nie. Dit was beslis ‘n week van uiterstes - van maksimum temperateure van oor die 40°C op plekke, terwyl die kwik dieselfte tyd op ander plekke tot onder vriespunt gedaal het en sneeu selfs in Lesotho geval het.

Volgens statistiek van die Suid-Afrikaanse Weerburo was Punda Maria die warmste plek in die land op 2 November met ‘n lesing van 43.5°C. Dit was ook ‘n rekordlesing, met die ou rekord van 42.8°C wat vir 38 jaar gestaan het.

Op Levubu is die 51-jaar-lange rekord maksimum temperatuurlesing ook verpletter toe die kwik op 2 November tot 42.5°C gestyg het. Die vorige rekordlesing was 41°C.

Thohoyandou en Giyani het ook rekord maksimum temperature opgelewer. Die rekord temperatuurlesing van 41°C vir Thohoyandou wat 33 jaar lank gestaan het, is op 2 November gebreek toe die kwik tot 41.1°C gestyg het. Op Giyani het die Weerdiens ‘n rekordlesing van 42.9°C gemeet, met die ou rekord van 40.6°C wat vyf jaar gestaan het.

Die nuwe maksimum temperature is hoofsaaklik in die noorde van die land aangeteken. Aan die ander kant van die land was die teendeel egter waar, met talle nuwe minimum temperature vir November weens die kouefront wat oor die land beweeg het.

Op 3 November was Sutherland die koudste plek in die land, nadat die kwik tot -2.6°C gedaal het. Nuwe minimum temperature is ook elders opgestel, almal op 3 November. Op Wepener daal die kwik tot 0.8°C (vorige rekord van 16 jaar was 1.7°C), terwyl Bloemfontein 1.9°C meet (vorige rekord van 22 jaar 2.3°C). Welkom en Kroonstad was ook ysig koud, met lesings van onderskeidelik 2.1°C (vorige rekord van 40 jaar was 2.4°C) en 3°C (vorige rekord van 37 jaar was 3.1°C), terwyl Kimberley 1.5°C meet (vorige rekord van 55 jaar 2.5°C) en Ottosdal 3.1°C (vorige rekord van 39 jaar 3.2°C) vir November.

 
 
 

Viewed: 176

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT