ADVERTISEMENT:

 

 
 

Corrie van der Horst saam met Pietie, haar liefling budgie wat sy met die hand grootgemaak het en amper in die brand verloor het.

Vlamme verswelg huis, maar brandweerwa daag nie op nie

Date: 07 November 2015 By: Isabel Venter

Wat vat mens as jou huis in ligte laaie staan en die brandweerwa daag nie op nie?

Jy red jou kinders en diere want “hulle is die heel belangrikste,” sê mev. Corrie van der Horst. Sy het nie net haar kinders en kleinkinders se veiligheid verseker nie, maar het die vlamme aangedurf om haar geliefde budgie, Pietie, te gaan haal. “Ek het hom gekry toe was hy so ‘n babatjie,” beduie sy die grootte met haar hande.

Sy staan en speel met die blou-en-geel Pietie deur die traliewerk van sy hokkie, terwyl sy vertel hoe sy en “mense van die community” die huis se voordeur platgeskop het. “Ek het sy hok gevat en toe só met hom uitgeloop,” sê sy terwyl sy haar hemp oor haar mond trek en beduie hoe sy gekeer het dat sy nie versmoor van die digte rookwalms nie.

Die Van der Horsts se huis, sowat 20 km buite Louis Trichardt op die Madombidza-pad, is op 26 Oktober gedeeltelik in puin gelê ná ‘n verwoestende brand. Corrie en haar man, Johan, deel die huis met hul seun Johan jnr. en sy vrou Maria, Maria se dogter Dalene en haar man Manie en hulle dogtertjie, klein Corrie.

Corrie sê hulle verskeringsmaatskappy is nog besig met die ondersoek, en dat die ondersoeker se voorlopige bevinding is dat die brand ontstaan het in die kombuis.

Sy, Dalene, klein Corrie (3) en Rozario (16), Corrie se kleinseun wat daar gekuier het, was alleen by die huis gewees toe die brand ontstaan het. Dit was omstreeks 17:15. Corrie het laaste nog ‘n stukkie wors in die oond gebraai vir aandete. Almal was in hulle eie kamers besig terwyl hulle gewag het vir Johan en Manie om van die werk af te kom.

Klein Corrie het eerste agtergekom daar’s fout en histeries begin skreeu. Die grootmense het die kombuis gekry, verswelg in vlamme. Groot konsternasie het toe losgebars soos wat hulle probeer red het wat hulle kon. Ongelukkig het die vlamme intussen na die dak versprei, en van daar na die res van die huis.

Die hele voorste deel van die Van der Horsts se huis het afgebrand. “Hier is baie skade,” het Corrie gesê. Die inhoud van die kombuis, eet- en sitkamer het uitgebrand, en die res van die huis is toe onder die roet. “Ons het nou nie eens meer klere vir die kerk nie,” het Corrie gesê.

Sy en Dalene was juis besig om vir die soveelste keer hulle klere en linne te was tydens die Zoutpansberger se besoek by hul huis verlede Donderdag. 

Wat die Van der Horst-familie egter warm onder die kraag het, is dat hulle teen die einde van laasweek nog steeds gewag het vir hulp van die brandweer.

“Vir ons het hulle gesê hulle het nie ‘n voertuig nie,” het ‘n ontstelde Dalene gesê. “En dit was nadat ons hulle aanhoudend probeer bel het en gesukkel het om hulle in die hande te kry,” het sy gesê.  Hulp het genadiglik egter van die bure en gemeenskap van Madombidza gekom voor dit te laat was en hulle alles verloor het, het Corrie bygevoeg.

Die Makhado Brandweerstasie het by navraag gesê dat hulle was bewus van die voorval, maar dat hulle enigste brandweerwa stukkend staan vanaf September. Die stasie het ook bevestig dat hul benarde posisie onder die aandag van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), asook die provinsiale departement, gebring is. Verder het die stasie ook bevestig dat hulle die Van der Horsts se klagte ontvang het, maar dat hulle die familie na Lugmagbasis Makhado verwys het vir hulp.

By navraag het die VDM egter gesê dat brand- en reddingsdienste nie die provinsiale departemente se verantwoordelikheid is nie, en alleenlik die verantwoordelikheid van die VDM is. “Dit is ons [VDM] mandaat om eiendom en mense lewens te beskerm in die geval van ‘n ramp,” het mnr. Ralushai Matodzi, die munisipale woordvoerder, hierdie week in ‘n e-pos gesê.

Hy het vrae rondom die herstel van die brandweerwa afgemaak as irrelevant. “In hierdie stadium bespaar die munisipaliteit geld deur voertuie direk na die handelaar te neem, in stede daarvan om ‘n diensverskaffer werkswinkel te gebruik om die herstelwerk te doen,” het Matodzi gesê. “Die munisipaliteit het besluit om in te tree en kostes te besnoei deur die gebruik van konsultante of diensverskaffers te verminder, wat die munisipaliteit die geleentheid sal gee om addisionele voertuie te koop,” het hy nog bygevoeg.

Matodzi het gesê dat die VDM bekommerd is oor wat gebeur het met die Van der Horsts, “weens gapings in hulle [brandweer] operasionele werk” en dat die saak ondersoek sal word, sodat so ‘n tragedie in die toekoms verhoed kan word.

Intussen moes die Van der Horsts dorp toe trek, sodat hul versekeringsmaatskappy die ondersoek kan afhandel en 'n besluit kan neem oor wat met hulle huis sal gebeur.

 

 
 
 

Viewed: 346

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT