ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 27-jarige Rose Kemp. Foto: Facebook.

Vrou deur bok deurboor

Date: 28 September 2015 By: Andries van Zyl

‘n Jong vrou van Vivo is gelukkig om te leef, nadat sy deur ‘n njalabul deurboor is.

Die 27-jarige me. Rose Kemp is welbekend vir haar liefde vir die natuur en is ‘n absolute diere mens. Sy is mal oor die plaaslewe en teel self njalas op die familieplaas Spitskop in die Vivo-omgewing. Dit was juis een van haar eie njalabulle wat Dinsdag byna haar lewe geneem het.

Rose se aanstaande, mnr. Walter Gilfillan, het Woensdag aan die Zoutpansberger vertel wat presies gebeur het.

Rose was omstreek 13:00 die betrokke dag besig om ‘n njalabul in ‘n passiewe boma in te jaag. Sy het agter die boma se deur gestaan, maar skielik het die bul haar bestorm.

Die bul het die deur oopgestamp en Rose het agtertoe gesteier. In die proses het sy die bul met die linkerhand probeer wegklap. Die bul het egter sy kop laat sak en Rose deur die maag, by die rug uit, deurboor. Omstanders het Rose dadelik te hulp gesnel.

Walter vertel dat hy vanaf Mookgophong op pad terug was na Louis Trichardt toe hy naby Matoks die skoknuus ontvang het. Rose was nog by haar bewussyn en het gevra dat hulle vir Walter moet skakel. “Ek het baie groot geskrik, juis omdat ek nie geweet het hoe ernstig sy was nie,” het Walter gesê. Dit was vir almal betrokke ‘n baie traumatiese voorval, aangesien Rose se pa, wyle Koos Kemp, amper presies 10 jaar gelede op dieselfde plaas dood is toe hy deur een van sy buffels deurboor is.

Walter het dadelik die Zoutpansberg Privaathospitaal geskakel en gereël dat daar dokters op bystand is. Hy het ook ‘n helikopter op bystand geplaas in Polokwane. Intussen is Rose per voertuig vanaf die plaas hospitaal toe deurgejaag. “Ek het met haar op die telefoon gepraat. Sy het vir my gesê sy is fine, sy voel niks nie. Sy was sekerlik in skok gewees,” het Walter gesê.

Met haar aankoms by die Zoutpansberg Privaathospitaal het dokters dadelik Rose se toestand gestabiliseer, waarna Walter en Rose se ma, Alida, haar self per voertuig deurgejaag het na die MediClinic in Tzaneen. “Dit was net baie vinniger as om te wag vir ‘n ambulans,” het Walter gesê.

By die MediClinic in Tzaneen aangekom, is Rose dadelik teater toe, waar medici vanaf 17:00 tot 19:10 op haar geopereer het. Dit was tydens die operasie wat dokters agtergekom het juis hoe gelukkig Rose was. Die horing het haar nierpyp en nier rakelings gemis, maar tog die dikderm beskadig. Die dokters het daarin geslaag om dit weer suksesvol te heg.

“Sy is nog in baie pyn, maar haar toestand is stabiel. Die dokters is baie tevrede,” het Walter gesê. Hy het bygevoeg dat Rose Woensdag nog steeds onder hewige verdowing in die hospitaal se hoësorgsaal was, grootliks vir observasie om te verhoed dat sy infeksie opdoen vanweë vuilheid op die bok se horing. Almal was egter baie optimisties dat Rose binnekort weer op die been sal wees.

 
 
 

Viewed: 13266

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Rose Kemp by een van haar njalas. Foto: Facebook.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT