ADVERTISEMENT:

 

 
 

sHiffft (Seek Him in faith, forgiveness & fellowship together) 'n jeugbedieningsaksie van Vivo en Dendron, se kleurvolle ballone het beslis die oog getrek tydens die Stap-vir-Bybels Fees op Vivo die naweek. Aan elke ballon is 'n stapper se gebed vasgemaak, waarna al die ballonne saam laat gaan is. 

Streek trek stapskoene aan vir Bybel-projek

Date: 25 September 2015 By: Isabel Venter

Die Soutpansberg-streek se mense het die afgelope naweek hulle stapskoene aangetrek vir die jaarlikse Stap-vir-Bybels fees op Vivo.

Hierdie gemeenskapsprojek, wat op die CVO Skool Vivo se skoolterrein aangebied is, het mense van wyd en syd gelok om te kom stap vir Bybelverspreiding. Die projek het ten doel om geld in te samel vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, sodat Bybels na die uithoeke van die aarde versprei kan word. Dit was vanjaar die sewende agtereenvolgende jaar wat die projek by Vivo aangebied is.

Een van die organiseerders, me. Melanie Becker, het gesê die projek het klein begin in 2009, nadat die jeuggroep van die AP Kerk Dendron-gemeente vroeër betrokke was by ‘n Bybelverspreidingsprojek. “Ons het gevoel ons wil meer doen, en het met die idee vorendag gekom om die Stap-vir-Bybelsprojek te stig hier in ons eie geweste,” het Melanie Saterdag gesê.

Soos wat die projek gegroei het, het die jeug al die ander kerke in hul omgewing genader om te help reël aan die fees. “Dit is dus die hele gemeenskap se kerke wat betrokke is, en dit is een van die redes wat die projek so fantasties maak,” het Melanie gesê.

Elke jaar word die projek ook voorafgegaan met die uitdeel van blikkies waarin mense hul kleingeld kan ingooi. Dié blikkies word dan weer ná afloop van die projek getel en gaan ook vir Bybelverspreiding.

Die dag van die groot stap word elke rondte wat spanne se stappers om die sportveld stap omgeskakel in rand en sent, wat ook oorbetaal word aan die Bybelgenootskap. Elke stapper se rondtes word gemonitor deur ‘n elektroniese bandjie om die enkel.

Hierdie jaar het daar meer as 60 spanne ingeskryf vir Saterdag se stap. Die organiseerders het ook ‘n borgskap ontvang van R25 000 indien al die spanne saam 5 000 rondtes kon stap. Hierdie teiken is sommer vroegoggend al behaal. “Dit is amper 600 Bybels werd,” het Melanie gesê.

Hierdie jaar was daar, behalwe vir al die ander pretpark aktiwiteite en stalletjies, ook alternatiewe vervoermiddels beskikbaar vir die stappers om die baan - alles natuurlik teen ‘n ekstra fooitjie. Stappers kon, byvoorbeeld, mekaar om die baan stoot met ‘n kruiwa of ‘n fiets huur. 

Heinz Winckler, ‘n Idols-wenner, het ook gesig gewys in die ontbyttent, waar stappers eers ‘n stewige plaasontbyt kon nuttig voor hulle die groot stap aangepak het. 

Die AP Kerk Pietersburg-gemeente het die meeste rondtes gestap. Elsabé Cronjé is aangewys as die stapper wat die meeste rondtes geloop het. Ander pryse wat oorhandig is, het gegaan aan Hoërskool Tom Naudé vir die span wat die meeste spangees gebring het, die NG Kerk Dendron-gemeente wat die Bybelvasvra-kompetisie gewen het en Pietersburg Oosskool se Graad 3 Tweetie-klas wat die mooiste bymekaarkomplek gehad het. 

[Kliek hier vir meer foto's van die dag]

 

 
 
 

Viewed: 385

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Heinz Winckler, die Idols-sanger, het ook oë gewys by die jaarlikse Stap-vir-Bybels Fees op Vivo die afgelope naweek. 

Fourie Steyn, 'n jong lid van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente, het gewys Bosveldseuns kan ook "branders" ry. Hierdie branderplank werk amper soos die Ride-a-Bul rit en dit vat nogals vernuf om bo-op die skommelende plank te bly. Die rit was een van vele prettige aktiwiteite waaraan kinders kon deelneem tydens die afgelope naweek se Stap-vir-Bybels Fees op Vivo.

Ma en pa moes maar stap, terwyl die kinders eers gaan kyk het hoe lank hulle op die meganiese bul kon ry. Die tou by hierdie bul was lánk, en veral die seuntjies was braaf dat hulle die langste op die bul kon "ry". 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT