ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Inbreker doodgeskiet op hoewe buite dorp

Date: 21 September 2015 By: Isabel Venter

Die Smith-gesin van Louis Trichardt ag hulself baie gelukkig om te leef, na ‘n inbraak by hulle plaashuis verlede Vrydag.Die voorval het plaasgevind net ná 23:00, toe die stoor se alarms afgegaan het. Dennis en Jana Smith, wat op ‘n kleinhoewe bly net buite die dorp op die Levubu-pad, was reeds in die bed.

Aanvanklik het hulle gedink dit is òf die honde òf die wind wat die alarm bly aktiveer. Nadat die alarm vir die soveelste keer afgegaan het, het Dennis besluit om op te staan en te gaan ondersoek instel.

By sy stoorkamer aangekom, het hy dadelik opgemerk dat die roldeur ‘n ent oop is – genoeg vir iemand om onderdeur te kon kruip. In die stoor, wat halfdonker was, het Dennis ook gesien dat van sy gereedskap en fietse rondgeskuif is. Hy het toe nog nie gedink dat daar inbrekers was nie.

Die inbreker het hom egter onkant gevang en het weggekruip in die agterste kamer van die stoor. Hierdie kamer was donker en toe Dennis probeer inloer, het die inbreker daar uitgebars gekom en vir Dennis omgestamp.

In die proses wat Dennis geval het, het sy handwapen afgegaan. “Ek het nie eens geweet of ek iets raakgeskiet het nie ... dit was nie die bedoeling gewees om te skiet nie,” het Dennis Dinsdag gesê.

Dennis het ‘n redelike hou teen sy kop weg van die val, maar het dadelik opgespring en terug gehardloop huistoe. “Ek het gedink ons word aangeval ... ek het nie geweet of daar nóg skelms was nie,” het Dennis gesê.

In die hardloop het hy vir Jana geskreeu om die polisie te bel.  

Die Makhado Polisie was binne minute op die toneel, en hulle het die inbreker net buitekant die stoor dood aangetref.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die inbreker die 35-jarige Cedric Belemu was. Hy het lank gelede vir Dennis gewerk, maar het bedank.

Dennis, Jana en hulle gesin het met groot lof gepraat van al die harde werk en ondersteuning wat die plaaslike polisie hulle gesin gegee het. “Hulle het só professioneel opgetree en ons nooit soos misdadigers laat voel nie,” het Dennis en Jana gesê. “Ons het rêrig gevoel hulle gee om, en kan net dankie sê.”

Die egpaar het ook ‘n spesiale woord van dank gehad vir kapt. Dries Rossouw van die polisie se reserviste-eenheid wat hulle ondersteun het tot nog lank nadat die ondersoekspan die toneel opgeklaar het.

Die voorval word ondersoek.

 
 
 

Viewed: 312

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT