ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Buiten skorsing ook kriminele klagte teen seuns

Date: 19 September 2015 By: Andries van Zyl

Beide leerlinge wat verlede week in ‘n gewelddadige konfrontasie met mekaar betrokke was by Hoërskool Louis Trichardt is geskors. Buiten die skorsing is kriminele klagte van aanranding teen beide seuns gelê, met die twee wat teen-klagte van aanranding teen mekaar gelê het.

Die konfrontasie het verlede Dinsdagmiddag by die skool plaasgevind. ‘n Graad 12-seun het by die eksamenlokaal opgedaag om ‘n vraestel te skryf as deel van die matrieks se rekordeksamen, toe hy deur ‘n Graad 11-seun gekonfronteer is. Dit het aanleiding gegee tot ‘n struweling waartydens die Graad 12-seun die Graad 11-seun met ‘n mes gesteek het. Dit was nie die eerste keer dat die twee seuns koppe stamp nie. Die Graad 11-seun het reeds ‘n week vantevore kennis gekry van ‘n dissiplinêre verhoor teen hom weens wangedrag, juis oor ‘n klagte van afknouery teen hom vanaf dieselfde Graad 12-seun. Die voorval het weer die kalklig geplaas op die baie aktuele kwessie van afknouery (bullying) by skole, veral gesien in die lig van die eweneens onsmaaklik voorval by Laerskool Randfontein die afgelope week waar ‘n Graad 7-seun deur mede Graad 7-seuns toegetakel is onder luide applous en aanhitsing van ander leerlinge.

Die Graad 12-seun is kort ná die voorval deur Hoërskool Louis Trichardt geskors. Sy skorsing was van onmiddellike effek aangesien hy ‘n kategorie D-oortreding (besit van / afdreig met / gebruik van ‘n gevaarlike wapen), ingevolge die skool se gedragskode en in lyn met die nasionale Skolewet, begaan het.

Die Graad 11-seun is verlede Woensdag geskors ná ‘n dissiplinêre verhoor. Hy is verhoor vir sy wangedrag van die vorige week, asook die konfrontasie met die Graad 12-seun die vorige dag. Hy is vir ‘n periode van 14 dae geskors en sy saak is oorgegee aan die Departement van Onderwys om verder te ondersoek. Soos die Graad 12-seun, sal hy ook toegelaat word om slegs eksamen te kom skryf by die skool tydens sy skorsing, mits hulle aan die skool se skoolreëls en gedragskode voldoen. Intussen sou die Graad 12-seun se dissiplinêre verhoor Woensdag, 16 September, plaasvind, maar teen druktyd was die uitslag van die verhoor nie bekend nie.

Wat die kriminele klagte van aanranding teen die twee seuns betref, het hulle saak verlede Vrydag in die hof hier voorgekom. Die hof het beveel dat beide seuns ‘n afwentelingsprogram moet voltooi. Die program het dit ten doel om oor ‘n periode van tyd, in samewerking met die seuns en onder leiding van ‘n Staats-aangestelde maatskaplike werker, hulle gedrag te wysig. Volgens mnr. André Weideman, hoofaanklaer van die Departement Justisie se Thohoyandou-streek, is dié afwentelingsprogram ‘n tipe genade wat die regstelsel aan jeugdiges bewys om hulle nie te kriminaliseer voor hulle skool klaarmaak nie. Aan die einde van die tydperk sal die maatskaplike werker ‘n verslag opstel waarvolgens die hof finaal sal bepaal of die klagte van aanranding teruggetrek sal word al dan nie. Dit hang dus alles van die kinders af.

Soos genoem het dié voorval, asook die voorval by Laerskool Randfontein, weer die fokus geplaas op die kwessie van afknouery by skole. Dit is ‘n saak wat ernstig opgeneem word deur Hoërskool Louis Trichardt, in so ‘n mate dat die skool se beheerliggaam ‘n amptelike beleid geformuleer het ten opsigte hiervan. Die beleid, getiteld Beleid oor Bullebakkery en Kuberbullebakkery, is op 25 Augustus vanjaar goedgekeur. Die beleid verduidelik breedvoerig wat die skool alles ag as bullebakkery en hoe daar teen oortreders opgetree sal word. Dit is ook nie net van toepassing op voorvalle op die skoolterrein nie, maar onder andere ook waar leerlinge na en van ‘n skoolgeborgde geleentheid vervoer word. “Bullebakkery is nadelig vir die skoolomgewing en leerders se leer, prestasie en welstand. Dit meng in met die missie van die skool om leerders te onderrig, en ontwrig skoolbedrywighede. Bullebakkery raak nie net die leerders teen wie dit gerig word nie, maar ook diegene wat aan sodanige gedrag deelneem of dit aanskou. Dit moet dus die hoof gebied word om leerlingveiligheid en ‘n inklusiewe leeromgewing te verseker,” lees die inleiding van die beleid.

Hoërskool Louis Trichardt het ook aangedui dat hulle verskeie meganismes in plek het waardeur kinders gevalle van afknouery kan aanmeld. “Buiten ons dissiplinêre beampte, mnr. Eddie Luies, is daar verskeie personeellede wat as beraders optree. Ons het ook dieGuardian Angels-projek onder leiding van past. Jan Venter, wat deurlopend met kinders skakel. Van die skool se kant af word die kinders ook toegerus met ‘n skooldagboek waarin onder andere die hele gedragskode en dissiplinêre stelsel uiteengesit word. Ons het ook sowat ‘n jaar gelede kameras by die skool in klaskamers en op die terrein geïnstalleer om ook optrede op die terrein en in die klasse te monitor tot voordeel van leerders en onderwysers. Dit het definitief ‘n positiewe uitwerking,” het skoolhoof mnr. Louis Cilliers gesê. Die groot rede vir hierdie meganismes is om te help om ‘n situasie te probeer ontlont voordat dinge handuit ruk.

Maar wat van gevalle waar kinders en hul ouers voel die stelsel laat hul kinders in die steek? In sulke gevalle is daar altyd die hofroete. “Waarop dit neerkom, is dat ‘n persoon kan aansoek doen vir ‘n beskermingsbevel by die hof,” het Weideman gesê. Wanneer daar vir ‘n beskermingsbevel aansoek gedoen word, kan daar ook tegelykertyd ‘n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak word. Weideman het gesê gevalle van afknouery gaan gewoonlik gepaard met aanranding.

Daar kan by beide die hof en die polisie aansoek gedoen word om ‘n beskermingsbevel. Die aansoek moet deur die leerder self gebring word. By die hof kan hulle bygestaan word, maar as daar nie iemand by die hof beskikbaar is nie, kan die polisie ook die klaer help om ‘n verklaring af te lê en die aansoek te voltooi. Wanneer ‘n aansoek gebring word, word ‘n interim beskermingsbevel deur die hof uitgereik. Daarna sal die persoon teen wie die bevel gebring word redelike tyd gegun word om te verduidelik waarom die bevel nie permanent gemaak moet word nie. Indien sy of haar verduideliking onvoldoende is of die persoon teen wie die klag gebring word nie by die hof opdaag nie, sal die beskermingsbevel permanent gemaak word. Hierdie bevel is lewenslank van krag.

 
 
 

Viewed: 850

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Generic image

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT