ADVERTISEMENT:

 

 
 

Een van Annelize Pauer (16) se grootste wense het waar geword toe sy die gevierde digter, Antjie Krog, by die McGregor-gedigtefees kon ontmoet. Foto verskaf.

Digter Annelize skuur skouers met Antjie Krog

Date: 11 September 2015 By: Linda van der Westhuizen

Een van Annelize Pauer (16) se grootste wense het waar geword toe sy die gevierde digter Antjie Krog kon ontmoet. Dit was egter nie al nie. By dieselfde geleentheid is Annelize se eie gedig gekies onder die top vier gedigte uit landswye inskrywings vir die McGregor-gedigtefees.

Annelize, ‘n Graad 11–leerling van Hoërskool Louis Trichardt, was een van 12 finaliste in haar ouderdomskategorie by dié fees wat van 27 tot 30 Augustus in McGregor in die Robertson-vallei aangebied is.

Twee Afrikaanse en twee Engelse gedigte in dié kategorie is voorgelees deur van die organiseerders van die fees. Annelize se gedig, ‘n Tuiste in die hemel, is een van die twee Afrikaanse gedigte wat voorgelees is. “Die gedig gaan oor 'n verbeeldingsvlug van 'n klein dogtertjie wat gekonfronteer word met die dood van haar pa. Daar word klem gelê op die dogtertjie se selfstandigheid as gevolg van dié tragedie, wat haar ook geestelik en emosioneel gevorm en geslyp het. Aan die einde van die gedig kom die leser agter dat daar 'n dubbele betekenis van die ‘Pappa’ in die gedig is. Die dogtertjie neem Jesus ten volle aan en Hy maak vir haar die pad oop na haar ewige teenwoordige Pa,” vertel Annelize oor haar gedig. Sy voeg by dat die wenner in haar kategorie die gedig Namiblied van Mia Beukes van Hoërskool Bonnievale was.

‘n Hoogtepunt vir Annelize was uiteraard Antjie Krog se gedigtevoorlesing. “Haar groot talent en die passie waarmee sy haar gedigte voorlees, het my oorweldig. Ek het ook die voorreg gehad om haar te ontmoet en sy het een van haar bundels vir my geteken,” sê Annelize.

Die McGregor-gedigtefees het nog ‘n interessante nadraai gehad. “Na die aankondiging van die wengedig het ek en my ma 'n bietjie in dié bekoorlike kunsdorpie rondgery en 'n baie veelsydige en talentvolle vrou in ‘n koffiewinkel ontmoet. Sy het begin om liedjies op haar kitaar te speel van gedigte wat sy getoonset het. Wat 'n wonderlike, intieme ervaring!” vertel Annelize. Haar ma, me. Annelle Pauer, sê dat dié digter, musikant en skilder, Annelien van der Colff, van Annelize se gedigte ook gaan toonset.

Nog inspirasie wag vir Annelize, wanneer sy op 6 Oktober die ATKV Blits-Gedigtewerkswinkel by Aardklop in Potchefstroom gaan bywoon.

 
 
 

Viewed: 309

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT