ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle ds. Louis Schnetler. Foto verskaf.

Geliefde dominee Schnetler het altyd voluit gelewe

Date: 11 September 2015 By: Linda van der Westhuizen

“Ds. Louis Schnetler was alles vir ons, hy kon alles doen en hy het alles gedoen. In tye van nood het hy self gekom en ons kom help. Hy sou sy eie kar vir jou gee as jy nie vervoer gehad het nie. Vir ons was hy amper soos die Here self…” sê ‘n gebroke ds. Henry Nenghovela na die afsterwe van dié geliefde sendeling.

Saterdag, net voor 18:00, het ds. Louis stil in sy eie huis heengegaan nadat hy meestal bedlêend was na ‘n beroerte-aanval in Januarie 2013. “Hy het die laaste  twee weke verswak en die laaste paar dae nie meer gepraat nie,” sê me. Sarie Schnetler, met wie ds. Louis 44 jaar lank getroud was. “Saterdagoggend het hy my hand styf vasgehou en my in die oë gekyk. Daardie oë wou vir my sê, toemaar, alles sal reg wees,” sê sy bedroefde seun, Gideon. Gelukkig kon sy pa nog sy troue in April vanjaar bywoon.

In teenstelling met sy rustige heengaan, was ds. Louis se lewe baie besig. “Hy het so voluit gelewe, so heelhartiglik. Hy het niks ontsien om mense te help nie; hy het altyd ‘n helpende hand na almal uitgereik,” sê Sarie. Sy dogter, Ronel, stem saam. “Dit maak nie saak vir wie dit was nie, hy het altyd die ekstra myl geloop.”

Gideon Louis Schnetler is op 27 Januarie 1943 in Maraisburg in Johannesburg gebore en het aan die John Orr Tegniese Hoërskool gematrikuleer. Hy het homself as tekenaar vir raadgewende ingenieurs bekwaam en sy beroep vir 10 jaar beoefen. Intussen het hy gevoel dat die Here hom roep as voltydse bedienaar van die woord. Hy het bedags gewerk en saans klas geloop by die NG Teologiese skool van die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1979 afgestudeer het. Louis en Sarie is op 30 Januarie 1971 in Elandsfontein naby Kemptonpark getroud. In 1974 is die tweeling, Cara en Ronel, gebore, Gideon in 1976 en Erard in 1980. “Ten spyte daarvan dat Louis gewerk en gestudeer het, het hy snags met die babas gehelp,” onthou Sarie. Daarby het Louis reeds as student aktief aan sendingwerk deelgeneem.

Hulle eerste sendinggemeente was Kgapane in die destydse Duivelskloof, waarna die gesin na Louis Trichardt verhuis het. Hier was ds. Louis van 1986 tot 2008 voltydse bedienaar by die Verenigende Gereformeerde Kerk se groot Kranspoort-ring. Na sy aftrede was ds. Louis deeltyds predikant by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente van 2009 tot 2011 en het hy die Kranspoort-ring steeds gehelp. Hy was ook ongeveer ses jaar konsulent van die VGK Mara-gemeente in Buysdorp.

“Hy het altyd ‘n verskil gemaak ... hy teken die kerkplanne, koop die boumateriaal, help bou en preek dan ook sommer in die kerk. Hy het altyd die minste gebruik om die meeste gedoen te kry. My pa het iets van die Vaderhart gesnap: as ons Hom vertrou, sal alles in plek val!” sê dogter Cara. So is daar onder meer die kerkgeboue in Midoroni, Muraleng, Vleifontein, Makhado (agter die berg), Matshavhawe en Mpeni wat ds. Louis gebou het. “Hy was ons vader en mentor. Hy het ook inkomste genereer vir ons salarisse,” sê ds. Nenghovela. Hiervoor het ds. Louis op die Kranspoort sendingplaas met veselperskes en nartjies geboer, totdat die plaas na 'n suksesvolle grondeis verkoop is.

In 2012 is ‘n groot droom van ds. Louis bewaarheid toe hy voltyds by die Sola Scriptura Bybelskool in Malawi klasgegee het. Ds. Ralph Gondwe Shammah van Malawi is een van die studente wat nie uitgepraat kon raak oor wat ds. Louis vir hulle as studente beteken het nie. Sondag het hy vir Sarie laat weet dat hy sopas in sy kerk getuig het van die ryke nalatenskap van ds. Louis Schnetler.

Die gemeenskap het ook baie gebaat by ds. Louis se vermoë om self in te spring en dinge te laat gebeur. Hy het ‘n groot rol gespeel in die vestiging van die Tshitandani Kinderhuis in Tshikota en hy was baie aktief by Ons Tuiste tehuis vir bejaardes vir meer as 20 jaar, ook as voorsitter en trustee. Me.Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste, het dit as ‘n groot voorreg beskou dat hulle ds. Louis die eerste maand ná sy beroerte daar kon versorg.  

Ds. Louis Schnetler word Saterdag, 12 September, vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Die gedenkdiens om 11:00 word deur ds. Jan Pretorius waargeneem. Ds. Louis word oorleef deur sy vrou, Sarie, en kinders, Cara (met skoonseun Gavin), Ronel (met skoonseun Michael), Gideon (met skoondogter Roelene) en Erard, asook vier kleinkinders.

Die familie bedank graag elkeen vanuit die VGK, die NGK en al die verskillende gemeentes in die dorp wat hulle die paar jaar van ds. Louis se siekbed en tydens sy afsterwe ondersteun het met gebede, besoeke, oproepe, boodskappe, donasies en finansies.

 
 
 

Viewed: 257

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT