ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leerders van die CVO Skool Zoutpansberg, net buite Louis Trichardt, het vermaak verskaf tydens die Doppers se La't Wiel Basaar die afgelope Saterdag.

Doppers La’t Wiel tydens Lentekermis!

Date: 10 September 2015 By: Wikus Lee

“As ek in enkele woorde die emosies moet beskryf wat lidmate van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt op Saterdag ervaar het, sal dit seker wees: verwondering, vreugde, verootmoediging!”

So het ‘n opgewonde ds. Innes Nagel vandeesweek gesê in reaksie op die suksesvolle Lentekermis wat die plaaslike gemeente aangebied het. Nagel het bygevoeg dat die gemeenskap ook saam met die skepping kan juig oor die Here se troue versorging en voorsienigheid en dat die stortreën wat gereeld afgewissel het genadedruppels is wat weer die aarde verkwik het.

Almal wat die kermis bygewoon het, was beïndruk met die feestelike atmosfeer wat deurgaans geheers het. Daar is heerlik geëet en saamgekuier en die koektafel het behoorlik gekreun. Mense het tougestaan vir nog `n pannekoek, terwyl die vleisstalletjie gespog het met `n wye verskeidenheid en die groentemark was `n wenner.

Die jongspan is besig gehou deur die Dopper-Tjokker-Tannies. Daar was ook verfbal (paint ball), skyfskiet, gesigverf en Simba die leeu en Apie het ook kom inloer.

Een van die hoogtepunte van die kermis was die Prinseskompetisie vir dogtertjies van 3-10 jaar en volgens Nagel kan Louis Trichardt en omgewing spog met van die pragtigste prinsessies in die kontrei.

Die uitslag in die ouderdom 3-6 jaar is: Aldoné Schwerdfeger (1ste prinses), Monique Schambriel (2de prinses) en Carli Hattingh (3de prinses). Die Persoonlikheidsprinsessie is Juandri Hanisch, die mees kreatiewe rok is deur Mizelle Naudé vertoon en Karla Kotzé was die mees fotogeniese prinsessie.

Wat die ouderdomme 7-10 jaar betref was die uitslae: Jana Nagel (1ste prinses), Crystal van der Schyff (2de prinses), Melinda van der Westhuizen (3de prinses), Sualize van der Merwe (persoonlikheid), Marli Erwee (mees kreatiewe rok) en Elmay Koen (fotogenies.)

Ander hoogtepunte sluit in opvoerings van die Graad R Revuegroep van CVO Skool en dansitems deur die  “Dance for Joy”  Dansakademie.

Die broeders ouderlinge het hul “fynere sy” ten toon gestel deur `n paar koeke vir die kerk se kantoordame, mev Nanette Malan (al 24 jaar in die kerkkantoor), se verjaardag te versier.

Nagel het die gemeenskap bedank vir die getroue ondersteuning. Hy het sy gemeente besonder bedank vir hulle harde werk. “Volgende jaar La’t Wiel ons weer,” het hy belowe.

 
 
 

Viewed: 473

 

 
 

Wikus Lee

 
 

More photos... 

Die prinsessiekompetisie was 'n treffer by die Lentekermis wat Saterdag op die terrein van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt plaasgevind het. In ons foto staan agter, van links na regs, Melinda van der Westhuizen, Jana Nagel en Crystal van der Schyff. Voor, in dieselfde volgorde, is Sualize van der Merwe, Marli Erwee en Elmay Koen.

Stel iemand belang in "Splat-a-rat"? Sussies Anelle & Sunè Beukes afgeneem by een van die speletjies wat deur hul pa en voorsitter van die diakonie, Henk Beukes, aanmekaar gesit is.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT